Sewe van die bestes: Bokke laai bank met voorspelers

Kwagga Smith en RG Snyman is twee van die sewe voorspelers op die Springbokke se plaasvervangersbank. (Foto: Twitter/Springbokke)

Net soos op Twickenham is daar weer sewe voorspelers op die Springbokke se plaasvervangersbank vir Saterdag se Wêreldbeker-eindstryd teen die All Blacks op die Stade de France.

Deon Fourie, Ox Nche, Trevor Nyakane, Jean Kleyn, RG Snyman, Kwagga Smith en Jasper Wiese sal vir die Bomb Squad bykomende plofkrag gee, terwyl Willie le Roux die enigste agterspeler op die bank is.

Daar is egter nie plek vir die talentvolle Manie Libbok in die opdrafspan óf die plaasvervangersbank nie en Handré Pollard sal saam met Faf de Klerk die Bokke se skakelpaar wees.

Bongi Mbonambi gaan saam met Steven Kitshoff en Frans Malherbe voor in die Springbok-skrum sak nadat Wêreldrugby aangedui het dat daar nie genoeg bewyse is om die vurige Bok-haker vir sy beweerde uitlating jeens Engeland se Tom Curry te straf nie.

Dan vorm Duane Vermeulen weer saam met Pieter-Steph du Toit en Siya Kolisi die lostrio met Eben Etzebeth wat sy slotkombinasie met die indrukwekkende Franco Mostert sal hervat.

Agterlangs sal Kurt-Lee Arendse en Cheslin Kolbe vir die flinke voetwerk-vertoning sorg, terwyl Jesse Kriel en Damian de Allende weer die Bokke se senterkombinasie is.

“Dit is ʼn ervare span met verskeie spelers wat in die eindstryd van die vorige Wêreldbeker-toernooi gespeel het. Hulle sal presies weet wat van hulle verwag word om die trofee op die Stade de France omhoog te hou,” het Jacques Nienaber gesê.

Volgens die Springbok-afrigter sal die 23 spelers in die wedstrydgroep die beste by die Bokke se wedstrydplan vir die eindstryd pas.

“Ons het van ʼn 5/3-plaasvervangersverdeling na ʼn 7/1-verdeling gespring omdat dit vir ons die beste kans gee om suksesvol te wees. Ons het voorsiening vir moontlike beserings in die agterlyn gemaak en ons is opgewonde oor die wedstryd.”

Die eindstryd begin Saterdag om 21:00 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

Springbokke: Damian Willemse (heelagter), Kurt-Lee Arendse (regtervleuel), Jesse Kriel (buitesenter), Damian de Allende (binnesenter), Cheslin Kolbe (linkervleuel), Handré Pollard (losskakel), Faf de Klerk (skrumskakel), Duane Vermeulen (agtsteman), Pieter-Steph du Toit (flank), Siya Kolisi (kaptein en flank), Franco Mostert (slot), Eben Etzebeth (slot), Frans Malherbe (stut), Bongi Mbonambi (haker) en Steven Kitshoff (stut). Plaasvervangersbank: Deon Fourie, Ox Nche, Trevor Nyakane, Jean Kleyn, RG Snyman, Kwagga Smith, Jasper Wiese en Wille le Roux.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Andries ·

Bokke bo!! Ek kies my woorde versigtig. Ons KAN dit weer doen. Ek sien uit na die chaos in my huis “as” die bokke wen!!

SjN ·

Goeie spankeuse, hoop net hul huidige spel patroon is ook aangepas, hou duim vas dat hul ons trots kan maak, ek voorspel n gelykop telling met ekstra speeltyd, sterkte en mag die beste span wen.

George ·

Help nie jy sit met sewe storm ramme in jou span en hulle weet nie wat om met die bal te doen nie….hierdie 7/1 split het amper geboem- arang teen hulle en Frankryk

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.