Shrien Dewani moet uitgelewer word

Shrien en Anni Dewani

ʼn Hof in Londen het Woensdag beslis dat wittebrood-moordverdagte Shrien Dewani aan Suid-Afrika uitgelewer moet word, het die Britse Persvereniging berig.

Hoofregter Howard Riddle het, ondanks argumente deur Dewani se verdedigingspan dat hy ʼn terugslag in sy geestelike gesondheid kan beleef, die uitspraak in die Westminster-landdroshof gelewer. Dewani se regspan wou die besluit met ses maande uitstel.

Dewani (33) is vroeër met depressie en post-traumatiese stresversteuring gediagnoseer.

Die hofsaal was volgepak met Anni Dewani se familielede, wat foto’s van haar en pienk linte op hul klere vasgesteek het.

Dewani word daarvan beskuldig dat hy sy jong bruid, Anni (28), se moord gereël het. Anni is op hul wittebrood in November 2010 in Suid-Afrika geskiet toe hulle met ʼn taxi in Kaapstad gery het.

Drie mans is tot dusver skuldig bevind aan die moord.

Xolile Mngeni is verlede jaar skuldig bevind aan moord met voorbedagte rade en tot lewenslange tronkstraf gevonnis. Staatsaanklaers het aangevoer hy was die sluipmoordenaar wat Dewani gehuur het om sy vrou te vermoor.

Zola Tongo, taxibestuurder, is tot 18 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy sy betrokkenheid aan die moord erken het.

Mziwamadoda Qwabe het ook skuldig gepleit op die moord en is tot 25 jaar tronkstraf gevonnis.

Riddle het in 2011 bepaal dat Dewani uitgelewer moet word, maar Dewani het appèl aangeteken. Die appèl is goedgekeur en die saak is hersien.

Sy prokureurs het ná die uitspraak gesê Dewani sal ook appèl aanteken teen vandag se uitspraak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae