ʼn Studentedokter en vyf pasiënte is Saterdagaand by die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Soweto met ʼn skêr gesteek. ʼn Pasiënt het glo ʼn skêr gesteel en het daarna die dokter en ander pasiënte aangeval. Die pasiënt is na die hospitaal se psigiatriese afdeling geneem vir evaluering. Die polisie het intussen gesê die man ly aan ‘n geestesversteuring. Die studentedokter sterk in die hospitaal aan.
In die tweede voorval is ʼn student aan die Universiteit van Stellenbosch die afgelope naweek by die Tygerberg-hospitaal agtervolg en aangeval. Die aanvallers het die jong vrou vermoedelik deur verskeie sale agtervolg voordat hulle haar in ‘n kamer, waar die studente kan rus, oorval het. Die studentedokter is ongedeerd.
Laeticia Pienaar, woordvoerder vir die Tygerberg-hospitaal, het die voorval bevestig en gesê dat hulle berading aan die student en haar gesin sal verskaf, berig EWN. “Die hospitaal se sekuriteit is voldoende. Hulle het ook nuwe maatreëls ingestel om die veiligheid van studentedokters en personeellede te verseker,” het Pienaar gesê. Sy het gesê personeellede kan van nou af ook deur ‘n wag vergesel word.