George Louca, die man wat verdink word van die moord op Lolly Jackson, voormalige eienaar van Teazers, het Maandag in die Kemptonpark-landdroshof verskyn nadat hy oor die naweek aan Suid-Afrika uitgelewer is.
Die saak is tot 18 Februarie uitgestel om Louca die geleentheid te gun om ʼn prokureur aan te stel.
Louca is Sondagoggend na Suid-Afrika gebring nadat sy finale verlof om appèl teen sy uitlewering in die appèlhof van Ciprus van die hand gewys is. Louca het verskeie pogings aangewend om sy uitlewering te verhoed.
Louca het uit Suid-Afrika gevlug nadat Jackson op 3 Mei 2010 by sy huis in Edenglen vermoor is. Die Valke was sedertdien op sy spoor in verband met die moord. Hy het glo kort na die moord vir Joey Mabasa, hoof van misdaadintelligensie in Gauteng, gebel en daaroor gebieg.
Die Valke ondersoek ook ander sake waaraan hy moontlik verbind kan word.
Louca het voorheen aan die Sunday Times gesê hy glo nie hy sal ʼn billike verhoor gegun word nie. – SAPA
Lees ook:
George Louca uitgelewer aan SA