Twee mans is in Clairwood, Durban, in hegtenis geneem op aanklag van handeldryf met en die besit van heroïen ter waarde van R40 000, het KwaZulu-Natal se polisie Saterdag gesê.
Polisie het verneem dat ʼn skeepsvraghouer op die hoek van Sirkumani- en Pinestraat gebruik word om in dwelms handel te dryf, het woordvoerder kol. Jay Naicker gesê. Die twee is omstreeks 19:30 Vrydagaand in hegtenis geneem nadat hulle agt strooitjies heroïen in hul besit gehad het. Die polisie se ondersoek na die skeepsvraghouer het ʼn verdere 1 500 strooitjies ter waarde van R40 000 opgelewer sowel as R6 500 kontant wat moontlik die wins uit ʼn dwelmverkoop was. Naicker se die twee mans, onderskeidelik 23 en 25 jaar oud, sal Maandag in die landdroshof in Durban verskyn.