Twee mans is in hegtenis geneem nadat ʼn handgranaat, vuurwapens en ammunisie in hul besit gevind is.
Ao. Dumile Gwavu, ʼn polisiewoordvoerder van die Oos-Kaap, het Maandag gesê die mans, onderskeidelik 18 en 22 jaar oud, is Donderdag in hegtenis geneem na ʼn gewapende roof van ʼn taxi-bestuurder en ʼn passasier in New Brighton.
“Hulle het ʼn onbekende bedrag kontant en ʼn selfoon gesteel voor hulle weggehardloop het,” het Gwavu gesê.
Die polisie het die mans by die 18-jarige se huis vasgetrek. Die gesteelde selfoon is in hul besit gevind. “Die huis is verder deursoek en die polisie het hier op die handgranaat, twee vuurwapens waarvan die reeksnommers afgevyl is, en lewendige ammunisie beslag gelê,” het Gwavu bygevoeg.
Die mans moet binnekort in die New Brighton-landdroshof verskyn op aanklagte van gewapende roof, die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie en die onwettige besit van plofstof.