Vakbond doen beroep om polisievrou te ondersteun

Renate Barnard

Die vakbond Solidariteit het Maandag ’n beroep op alle Suid-Afrikaners gedoen om kapt. Renate Barnard sterkte toe te wens nadat die arbeidsappèlhof Vrydag in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se guns beslis het in die omstrede regstellendeaksiesaak waarin die vakbond haar verteenwoordig. Die saak gaan verder in die konstitusionele hof gevoer word.

Persone kan Barnard sterkte toewens deur die woord “Sterkte” na 34388 te SMS, of hulle kan http://solidariteitbeweging.co.za/sterkterenatebarnard/ besoek om vir haar ’n boodskap te stuur. Die vakbond hoop om deur hierdie aksie duisende ondersteuningsboodskappe te ontvang wat aan Barnard oorhandig sal word.

Solidariteit het besluit om die konstitusionele hof te nader om teen die arbeidsappèlhof se uitspraak te appelleer en gaan ook die hof versoek om die polisie se regstellendeaksieplan in geheel ongeldig te verklaar.

Die Renate Barnard-saak is een van 33 regstellendeaksiesake van Solidariteit wat verskillende aspekte van die staat en semistaatsinstellings se regstellendeaksieplanne toets. Tien van die sake is reeds in Solidariteit se guns beslis. Daar lê nog net 15 sake voor, waarvan almal teen die SAPD is.

Barnard se regstellendeaksiestryd het reeds in 2005 begin. Sy het twee keer vir dieselfde pos aansoek gedoen en is beide kere as die beste kandidaat aangewys en deur die onderhoudpaneel aanbeveel. Die pos is egter vakant gelaat. Die pos is ’n derde keer geadverteer, maar is geskrap nadat sy weer daarvoor aansoek gedoen het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.