Vier sterf glo ná straatwedren

Argieffoto

Die polisie in Kaapstad ondersoek die rol wat twee straatwedrenjaers gespeel het in die dood van vier mense op die M5 in Kaapstad.

Die Cape Argus berig dat ʼn minibustaxi Sondagoggend op die M5 gery het toe dit omgeslaan en in ʼn sloot beland het. ʼn Man en drie vroue, tussen 50 en 72 jaar oud, is dood. André Traut, woordvoerder vir die polisie in die Wes-Kaap, het gesê dat ʼn saak van strafbare manslag oopgemaak is.

“Ons het rede om te glo dat die ongeluk deur twee motors veroorsaak is wat glo uitermatig vinnig gery het en mekaar moontlik gejaag het. Niemand is nog in hegtenis geneem nie,” het Traut gesê. Nurjehan Perin, ʼn ooggetuie, het aan die koerant gesê dat sy en haar mansvriend, Charl Krieger, ʼn silwer Mercedes Benz en ʼn swart en silwer Volvo gesien het. Die motors het glo gejaag en bane verwissel. Volgens Perin het die taxi nie die spoedgrens verbreek nie.

Krieger, ʼn brandbestryder, het nooddienste ontbied nadat die taxi omgeslaan het en ander motoriste het ook gestop om te help.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.