Vrou (86) sterf een dag ná marathon: soos sy wou

Joy Johnson Foto: Rachael Levy

Joy Johnson Foto: Rachael Levy

Joy Johnson, die oudste vrou wat Sondag aan die New York City-marathon deelgeneem het, is die volgende dag, met haar hardloopskoene nog aan haar voete, in haar slaap oorlede.

Die 86-jarige atleet, wat gesê het dat sy wou sterf terwyl sy hardloop, is Maandagmiddag op haar hotelbed dood aangetref. “Ten minste het sy gehardloop, dit is wat sy wou doen,” het Diana Boydston, haar dogter, gesê.

Johnson, van San Jose in Kalifornië het die wedren Sondag voltooi selfs nadat sy ná 32 km in die wedloop geval het. Die marathon strek oor 42km.

Haar suster, Faith Anderson (83) het haar na New York vergesel en gesê Johnson se kop het die padoppervlak getref. Paramedici wou haar hospitaal toe neem, maar sy was vasbeslote om haar 25ste NYC-marathon te voltooi. Sy het ná sewe ure, 57 minute en 41 sekondes oor die eindstreep gehardloop.

Johnson en haar suster het Maandag hul jaarlikse besoek na die Rockefeller-sentrum onderneem waar die “Today”-televisieprogram regstreeks uitgesaai word. Sy het Al Roker, die weerman, se blad geskud en haar medalje vir hom gewys – iets wat sy ná elke marathon gedoen het.

Terug by die Roosevelt-hotel in Midtown, het sy gesê sy is moeg en dat sy bietjie wou gaan rus. Sy het nie weer wakker geword nie.

Johnson is dood weens komplikasies ná die kopstamp en bloedverdunnermedikasie wat sy vir ʼn ligte hartkwaal geneem het.

Sy was ʼn liggaamsopvoedingonderwyseres wat ewe skielik ná haar aftrede, 25 jaar gelede, begin hardloop het. Sedert 2011 was sy elke jaar die oudste vrou om die NYC-marathon te hardloop.

Johnson het in ʼn onderhoud voor die marathon gesê sy hardloop haar eie spoed en stap wanneer sy moeg is. “Ek sal in een van die agterste busse wees, maar ek gee nie om nie,” het sy gesê. “Ek dank die Here dat ek elke oggend kan opstaan en kan hardloop. Talle mense van my ouderdom is al in rolstoele.”

Johnson het gesê sy volg haar daaglikse roetine: koffie, Bybelstudie, 12km hardloop. Sy het sommige dae ook 150 opstote gedoen. Sy het vroeër daagliks tussen 15 en 25 km gehardloop.

In die vroeë 1990s het Johnson ʼn marathon in vyf ure gehardloop.

Johnson is ʼn bekende in die hardloopgemeenskap en atlete, wat meer as 40 jaar jonger is as sy, het gereeld gevra om ʼn foto saam met haar te neem. “Ek het altyd gesê ek gaan hardloop totdat ek dood neerslaan,” het sy gesê. “Ek sal in my hardloopskoene sterf. Ek weet net nie wanneer ek gaan ophou nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Trippie ·

By die hartseer is dit tog ‘n pragtige storie !

RUS IN VREDE !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.