Weermagvrou in hof oor beweerde verkragting van kollega

Argieffoto (Foto: VBlock/Pixabay)

ʼn Vrouekaptein in die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag pleit onskuldig nadat ʼn voormalige vriendin, ʼn luitenant in die weermag, haar daarvan beskuldig het dat sy haar ná ʼn aand se gekuier in die barakke verkrag het.

Kapt. Sandiswe Nongonwana het Donderdag in die landdroshof in Pretoria verskyn.

Grafiese besonderhede oor die beweerde verkragting van die luitenant het tydens die verhoor aan die lig gekom. Die klaer het tydens ʼn vorige verskyning getuig dat sy en Nongonwana saam met ʼn groep weermagvriende op Vrydag 12 Maart 2021 by die barakke, en later op ander plekke, gekuier het. Later die aand is hulle terug na die barakke en die klaer het in Nongonwana se kamer oornag.

Albei het op die betrokke aand alkohol gebruik. Nongonwana het die klaer glo help uittrek sodat sy in haar kamer kon oorslaap. Die vermeende slagoffer het in die nag wakker geword van Nongonwana se beweerde seksuele aanval.

Die klaer het getuig sy het nié hiertoe ingestem nie en sy is terug na haar eie kamer. Sy het die volgende dag ʼn WhatsApp-boodskap aan Nongonwana gestuur waarin sy by haar wou weet “hoekom jy dit laas nag aan my gedoen het?”

“Ek verstaan nie wat gebeur het nie. Ek is steeds geskok. Ek wil net weet hoekom of wat jou tot daardie oomblik gelei het. Ek kan nie ophou huil nie. Ek weet nie eens hoe om te voel nie,” lui die klaer se opvolgboodskappe.

Hierna het die luitenant die vriendskap beëindig.

Sy het egter ʼn uitgerekte stryd gevoer om ʼn klag by die polisie aanhangig te maak omdat daar glo “nie bewyse” was nie. Die militêre polisie het haar eindelik gehelp om op 23 Maart 2021 ʼn klag teen Nongonwana aanhangig te maak.

Nongonwana het Woensdag getuig sy het verskoning vir haar optrede gevra en dat sy nie weet wat haar besiel het nie. Sy het voorts getuig dat die luitenant haar nie teëgesit het nie.

“Sy [die luitenant] was so dronk sy kon skaars loop,” het Nongonwana getuig.

Volgens haar het die klaer besluit om in die kamer oor te slaap. “My kamer is op die eerste vloer en hare was hoër op, op die sesde vloer en die hysbak het nie gewerk nie,” het Nongonwana getuig.

Volgens Nongonwana het die vermeende slagoffer haar vrae oor haar seksspeelgoed gevra, waarna hulle gesoen en “een ding tot die ander gelei” het, het Nongonwana getuig.

“Daar was nie enige teenkanting van haar nie. Sy het later gevra ek moet stop, toe stop ek. Sy het aan die slaap geraak en ek het nog eers verder met my kêrel op die foon gepraat.”

Volgens Nongonwana was dit die eerste keer dat so iets tussen die twee van hulle gebeur het. “Ek was verbaas, maar nie een van ons het teëgestribbel nie.”

Die verdediging het Donderdag ná Nongonwana se getuienis sy saak gesluit en nie verdere getuies geroep nie.

Die verhoor is tot volgende jaar vir slotbetoë uitgestel om Nongonwana, wat ver swanger is, kans te gee om te kraam .

Opvattings oor verkragting

Dr. Llewelyn Curlewis, ʼn strafregkenner verbonde aan die Universiteit van Pretoria, het by navraag gesê die persepsie van verkragting moet verander.

Die bestaande Wet op Seksuele Misdrywe maak voorsiening dat enigiemand, ook van enige geslag, verkrag kan word. Ingevolge die gemene reg is die misdryf verkragting gedefinieer as die onregmatige en opsetlike penetrasie van ʼn manklike geslagsdeel in ʼn vroulike geslagsorgaan.

“Ingevolge die huidige wetgewing is verkragting enige penetrasie met enige voorwerp of liggaamsdeel van een persoon in ʼn ander persoon se liggaamsopening as dit opsetlik of sonder toestemming gebeur.”

Curlewis sê dit is moontlik die rede waarom vermeende slagoffers sukkel om ʼn klag by die polisie aanhangig te maak.

“Die polisiebeampte is nie noodwendige ʼn regsgeleerde soos ʼn prokureur of aanklaer nie en besluit  dan sommer self – in die afwesigheid van beserings – dat daar nie ʼn misdryf was nie,” sê Curlewis.

“Die feit dat jy seergekry het – of nie – is glad nie die toets vir ʼn misdryf nie. Vervolging moet steeds plaasvind,” sê hy.

Die hof moet die besluit maak nadat al die getuienis in geheel opgeweeg is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Casper ·

Beide vroue was onder die invloed.Nie een van hulle het nee gesê nie.in my opinie was daar geen verkragting wat plaas gevind het nie.

Nici ·

Ek dink die herdefiniering van verkragting is baie verkeerd want dit beteken dan nou iets wat minder ernstige seksuele aanrandings insluit , asook enige penetrasie deur enige geslag. M.a.w. deur dit te doen gaan die oorspronklike betekenis afgewater word en minder impak he. Geslagsgebasseerde geweld is daardeur ook nie meer gedefinieer in die woord nie. Sekerlik het ons nie ‘n tekort aan woordeskat nie, hoekom als saamgooi en deurmekaar maak?

Bolandse Nooi ·

“Ingevolge die gemene reg is die misdryf verkragting gedefinieer as die onregmatige en opsetlike penetrasie van ʼn MANLIKE geslagsdeel in ʼn VROULIKE geslagsorgaan”.

Help my asseblief reg hier ………….. normaalweg het vroue nie MANLIKE geslagsdele nie en verg dit juis laasgenoemde onder omstandighede waar toestemming nie gegee is nie, om as ‘verkragting’ beskryf te word. Hier was twee VROUE, al was daar seksspeelgoed betrokke, bymekaar – albei klaarblyklik onder die invloed van drank (d.w.s. ontoerekeningsvatbaar) … hoe op dees aarde is dit verkragting en nie slegs seksuele aanranding nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.