12 pelgrims verongeluk in Kroasië

Die buswrak. (Foto: Damir Senar / AFP)

Minstens 12 Poolse pelgrims is Saterdagoggend in Kroasië dood toe hulle bus ’n snelweg in die noorde van dié land verlaat en in ’n sloot langs die snelweg beland het.

Altesaam 30 ander is tydens dié gru-busongeluk beseer.

“Hulle was pelgrims op pad na Medjugorje, ’n Rooms-Katolieke heiligdom in naburige Bosnië wat jaarliks honderde duisende besoekers lok,” het die Poolse premier, Mateusz Morawiecki, getwiet.

Sestien mediese noodspanne is na die ongelukstoneel sowat 60 km van Zagreb ontbied nadat die bus omstreeks 05:40 die pad verlaat het.

Die buswrak. (Foto: Damir Senar / AFP)

Elf pasiënte is vanoggend op die toneel dood verklaar. Die dodetal het intussen tot 12 gestyg nadat een van die beseerdes in die hospitaal gesterf het.

Agtien van die 30 beseerdes wat almal na hospitale gehaas is, was in ʼn ernstige toestand, sê Maja Grba Bujevic, hoof van Kroasië se nooddienste.

“Al die slagoffers is Poolse burgers,” het Lukasz Jasina, ’n woordvoerder van Pole se ministerie van buitelandse sake, bevestig. Die bus is ook in Pole geregistreer.

Die nooddienste op die toneel. (Foto: Damir Senar / AFP)

Adam Niedzielski, Poolse minister van gesondheid, Marcin Przydacz, adjunkminister van buitelandse sake, is tans op pad na Kroasië waar die tragedie hom afgespeel het.

Dié land is een van Europa se toptoeristebestemmings met miljoene wat tydens vanjaar se somer na die pragtige Adriatiese kus stroom.

Sowat 580 000 Poolse toeriste het Kroasië tussen Januarie en Julie vanjaar besoek.

Die busongeluk volg net meer as ’n jaar nadat tien toeriste van Kosovo in Julie verlede jaar in ’n busongeluk op ʼn snelweg in die ooste van Kroasië verongeluk het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.