30 jaar vir jong bruid wat man van krans afstamp

Jordan Linn Graham en Cody Lee Johnson Foto: CNN

Jordan Linn Graham en Cody Lee Johnson Foto: CNN

Jordan Linn Graham (22) is Donderdag tot 30 jaar tronkstraf gevonnis nadat sy haar man, agt dae ná hul huwelikseremonie, van ʼn krans afgestamp het.

Graham het glo in trane Cody Johnson (25) se familie om verskoning gevra, maar die regter het in sy uitspraak gesê daar is geen berou van haar kant af nie.

Graham, van Montana in Amerika, het Johnson tydens ʼn stryery by die Glacier Nasionale Park van ʼn krans afgestamp.

“Daar is slegs een persoon in hierdie vertrek wat weet wat gebeur het, en ek dink nie sy het die volle waarheid gepraat oor wat plaasgevind het nie,” het regter Donald Molloy gesê.

Graham is tot 30 jaar en vyf maande tronkstraf gevonnis sonder die moontlikheid van parool. Sy moet ook $16 910 (ongeveer R180 000) in skuldvergoeding betaal. Sy sal ook vyf jaar ná haar vrylating onder hoftoesig wees.

Die staatsaanklaer het tronkstraf van 50 jaar tot lewenslank aanbeveel. Hulle het gesê Graham het Johnson op 7 Julie na ʼn 91 meter hoë krans gelok, hom afgestamp en herhaaldelik vir die ondersoekbeamptes gejok. Sy het ook van die moordtoneel af weggery sonder om te gaan kyk of Johnson die val oorleef het. Die feit dat daar ook nie dwelmmiddels of alkohol betrokke was nie, beteken dat die beskuldigde “baie duidelik daaroor gedink het”, het die staatsaanklaer gesê.

Graham het in Desember, terwyl die saak deur ʼn jurie aangehoor is, skuld beken op die moord.

Johnson is op 8 Julie as vermis aangemeld nadat hy nie vir werk opgedaag het nie. Sy liggaam is drie dae later ontdek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.