9 sterf tydens skietery by Texas-winkelsentrum

Die winkelsentrum in Allen waar die skietery plaasgevind het. (Foto: Stewart F. House / Getty Images via AFP)

Agt mense is Saterdag by ’n winkelsentrum in Texas doodgeskiet toe ’n man in die parkeerterrein van die besige winkelsentrum naby Dallas losgebrand het.

Verskeie ander is gewond voordat die man eindelik deur ’n polisiebeampte by die winkelsentrum in Allen doodgeskiet is.

Ontstellende beeldmateriaal, wat sedertdien die lig op sosiale media gesien het, wys hoe die skieter uit sy motor in die winkelsentrum se parkeerterrein klim voordat hy sonder waarskuwing op omstanders begin losbrand.

’n Polisiebeampte, wat weens ’n onverwante noodoproep in die winkelsentrum was, het op die skote gereageer en die skieter “geneutraliseer”, aldus die plaaslike polisie.

Die identiteit van die skieter is nie bekend gemaak nie. Sy liggaam, uitgestrek op ’n sypaadjie, was een van sewe wat aangetref is toe nog polisiebeamptes op die toneel aangekom het.

Jonathan Boyd, die brandweerhoof in Allen, sê twee slagoffers het ná die skietery in die hospitaal aan hul beserings beswyk. Drie slagoffers verkeer in dié stadium nog in ’n kritieke toestand en vier is stabiel.

Sommige slagoffers was maar vyf jaar oud, het ’n hospitaalbeampte aan NBC News gesê.

Die polisie het aanvanklik vermoed dat daar ’n tweede voortvlugtige skieter is en die winkelsentrum deurkruis. Daar is later vasgestel dat die skieter alleen opgetree het.

Greg Abbott, goewerneur van Texas, het die massaskietery ’n “onuitspreeklike tragedie” genoem.

’n Amptenaar van die Withuis het intussen aan verslaggewers gesê pres. Joe Biden is oor die skietery ingelig.

Meer as 195 massaskietvoorvalle – gedefinieer as ’n skietery wat vier of meer mense gewond of gedood het – is tot dusver vanjaar in die Verenigde State aangemeld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hennie ·

En ons het gedink ons het probleme! In die VSA is jy nie veilig in n kerk, skool, winkelsentrum, huis of konsert nie.
Hulle gaan nooit die probleem kan oplos nie. 199 massa moorde net hierdie jaar …

Hendrik ·

Persentasie-gewys is Amerikaners steeds baie veiliger as Suid-Afrikaners. Maar dit beteken nie als is reg in die VSA nie. Dis heeltemal te maklik om ‘n semi-outomatiese wapen en ammunisie te kry. Jy kan dit koop voor jy ‘n bier mag koop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.