Aanvaller skiet haweloses in VSA

Skermskoot wat die metropolisie (MPDC) in Washington, DC vrygestel het. Dit is die verdagte wat haweloses teiken. (Foto: Handout/MPDC/AFP)

Die polisie in New York doen ʼn beroep op die publiek om hulle te help om ʼn man uit te ken wat Saterdag minstens twee hawelose mense geskiet het. Een van die mans het gesterf waar hy op straat gelê en slaap het.

“Dis ʼn verskriklike situasie,” sê burgemeester Eric Adams, ʼn voormalige polisiebeampte. Hy versoek enige ooggetuies om na vore te kom. ʼn Beloning van $55 000 (sowat R827 000) word aangebied vir inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming en suksesvolle vervolging van die man.

ʼn 38-jarige man is Saterdag vroegoggend in Lower Manhattan in die arm geskiet. Die man is gewond, maar het die aanval oorleef.

Die polisie het later dieselfde dag, in dieselfde woonbuurt, op die lewelose liggaam van nog ʼn man in sy slaapsak afgekom. Hy is in die kop en nek geskiet.

Beeldmateriaal van die voorval wys hoe ʼn man omstreeks 06:00 op die tweede persoon skiet – kort ná die eerste skietvoorval.

Plaaslike media het Sondagaand berig ʼn derde man is vermoedelik ook aangeval. Dié persoon is omstreeks 19:00 plaaslike tyd (2300 GMT) dood aangetref “met ʼn moontlike skietwond”, aldus die polisie, het NBC New York berig.

Adams sê die skietvoorvalle is “ʼn sinnelose aanval op mense wat op straat slaap”. “Hulle pleeg nie ʼn misdaad nie; hulle slaap net op die straat.”

Hy en die polisie het New York se duisende haweloses gemaan om by owerhede aan te klop wat hulle kan help om akkommodasie te kry. New York se hawelose-bevolking het die afgelope paar jaar skerp toegeneem. Adams het weke ná hy in Januarie die amp oorgeneem het, ʼn plan aangekondig om die persone uit die stad se moltreintonnels te skuif. Sy voorstel is skerp veroordeel deur sommige nieregeringsorganisasies. “Mense bly slegs in die moltreintonnels omdat hulle nêrens anders het om heen te gaan nie,” sê die Coalition for the Homeless.

Dieselfde man is vermoedelik ook verantwoordelik vir drie haweloses wat in Washington DC geskiet is.

Keechant L. Sewell, polisiekommissaris vir die metropolisie in Washington DC (MPDC), en hoof van die polisie Robert J Contee, het gesê skietvoorvalle in Distrik Columbia en New York is deur dieselfde verdagte uitgevoer. In elke voorval was die slagoffers haweloos.

Die eerste voorval in Washington het op 3 Maart omstreeks 04:00 plaasgevind. Beamptes het reageer op skote wat gehoor is. Hulle het ʼn man met skietwonde aangetref. Hy is na ʼn plaaslike hospitaal geneem vir behandeling.

Op 8 Maart het beamptes omstreeks 01:20 reageer op ʼn skietvoorval. Die slagoffer is ook na ʼn plaaslike hospitaal geneem.

Op 9 Maart het ʼn polisiebeampte omstreeks 02:55 reageer op ʼn voorval van ʼn tent wat brand. Die brand is geblus en die oorskot van ʼn volwasse man is gevind. Daar is later bevind die man het verskeie mes- en skietwonde opgedoen.

“Haweloses is ons mees kwesbare deel van die bevolking. ʼn Individu wat hulle teister terwyl hulle slaap is ʼn uiters gruwelike misdaad. Ons sal elke instrument, elke tegniek en elke vennoot gebruik om die moordenaar tot verantwoording te roep.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Miskruier ·

In NL was daar n paar dekades terug geen haweloses of straathonde nie. As regerings op hul ivoor torings sit en toekyk, begin die verval.

Carel ·

Dieselfde ding het gebeur in Brasilië. In Julie 1993 by Candelaria Church in Rio de Janeiro. Polisie lede wat nie aan diens was nie, het die kriminele element in Rio de Janeiro vermoor.

Tydens 1988 tot 1991 is 6000 haweloses deur “huursoldate” vermoor om kriminele elemente van die straat af te kry

Ek neem aan dié man was ook g-vol vir aanrandings in sy woonbuurt.

Wanneer ‘n land se Polisie nie hulle werk doen nie; gebeur dié tipe insident. Net soos die Zenofobiese aanvalle in RSA

Porseleintjie ·

So belangrik in sy eie oe dat hy besluit oor n hawelose se lewe. Hoogmoedig en arrogant. God se arm is nie te kort om jou ook by te kom nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.