Aardbewing lig Lombok-eiland met 25 cm

Grafika wat deur NASA beskikbaar gestel is toon satellietdata waardeur grondvervorming op die Lombok-eiland gesien kan word ná drie kragtige aardbewings. Grafika: NASA/JPL-Caltech/Copernicus/ESA via AP

Wetenskaplikes sê die kragtige aardbewings in Indonesië wat die dood van meer as 300 mense veroorsaak het, het die eiland wat getref is met tot 25 cm gelig.

Ongeveer 270 000 mense is dakloos gelaat deur die aardbewings wat meer as 68 000 huise verwoes het. Byna ʼn week nadat die eerste aardbewing met ʼn meting van 7 Lombok getref het, probeer inwoners steeds om tot ʼn mate na ʼn normale lewe terug te keer met gelowiges wat planne maak om tydelike moskees op te rig.

In Tanjoeng, een van die distrikte wat die ergste deur die aardbewing geruk is, het ʼn kosmark Saterdag oopgemaak waar inwoners groente en vis kon koop. Sommige winkels waarvan die geboue beskadig maar nie heeltemal verwoes is nie, het weer hul deure vir besigheid geopen.

Natbudi, een van die markverkopers, het gesê hy het geld geleen om voorraad aan te koop om by die markie te verkoop. “As ek net by die kamp bly en nie hierheen kom om goed te verkoop nie, sal ek nie geld hê om rys te koop nie.”

Sunarto, ʼn inwoner wat vis by die mark gekoop het, het gesê dit is ʼn verligting om iets “gewoons” te doen. “Ek voel bly en dank God dat die mark uiteindelik oop is. Ons kan solank goed koop terwyl ons wag vir die situasie om te bestendig, hoewel ons steeds bekommerd is.”

Lombok is in net meer as ʼn week deur drie aardbewings getref en moes talle naskuddings verduur. Die eerste aardbewing wat op 29 Julie voorgekom het, het die lewe van 16 mense geëis. Die daaropvolgende aardbewings het egter die dodetal vinnig laat styg. Volgens The Independent is minstens 347 sterftes reeds bevestig.

Indonesië, die wêreld se grootste eilandgroep, is kwesbaar vir aardbewings weens sy ligging in die sogenaamde “ring van vuur” in die Stille Oseaan waar kragtige aardbewings en vulkaniese uitbarstings algemeen is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

wonder ·

Sou graag meer wou lees oor die eiland wat met 25 cm gelig het…. al waar dit voorkom is die opskrif en inleidende paragraaf ….. :(

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.