Ackers en seun van aanranding beskuldig

Katie Allen het Maandag dié foto van haar broer, Harry Allen, op sosiale media gedeel. Foto: Instagram

Die rugbybreier Johan Ackermann, en sy rugbyspeler-seun, Ruan Ackermann, is in omstredenheid gedompel nadat daar op sosiale media beweer is dat hulle ʼn man by ʼn kroeg in Cheltenham in Engeland aangerand het.

Katie Allen het Maandag foto’s van haar broer, Harry Allen, op haar Instagram-profiel geplaas waar Harry se gekneusde gesig gesien kan word. Allen beweer haar broer is Sondag in die vroeë oggendure deur Ruan, Johan en ʼn ongeïdentifiseerde derde persoon by 21 Club aangerand.

Volgens Allen het die drie sonder rede vir Harry gepak, sy trui oor sy kop getrek en hom verskeie kere in sy kop, gesig en arms geslaan. “Hy is tans in die hospitaal om ʼn x-straal van sy gesig te kry en ʼn CT-skandering van sy kop omdat daar kommer is vir interne bloeding,” het sy geskryf.

Allen beweer dat die plaaslike polisie “baie bewyse” het, maar sê sy twyfel of die Ackermanns in hegtenis geneem sal word. “Hulle moet nie toegelaat word om hul grootte, bekendheid en mag te gebruik om ander met so min respek te behandel nie.”

Katie Allen het Maandag dié foto van haar broer, Harry Allen, op sosiale media gedeel. Foto: Instagram

Johan Ackermann is ʼn afgetrede Suid-Afrikaanse rugbyspeler en tans die afrigter van die Gloucester-rugbyklub in Engeland. Hy was voorheen afrigter by die Leeus. Ruan Ackermann het voorheen vir die Leeus gespeel en speel tans vir Gloucester.

Daily Mail berig ʼn woordvoerder vir Gloucester het bevestig dat die klub bewus is van die bewerings, maar geen kommentaar daaroor wou lewer nie.

Die plaaslike polisie het intussen in ʼn verklaring bevestig dat ʼn beweerde onderonsie tussen twee groepe mans by 21 Club in Cheltenham ondersoek word. Volgens die verklaring het die polisie omstreeks 01:30 by die toneel opgedaag, maar het die betrokkenes toe reeds die toneel verlaat.

“Die polisie sal vandeesweek kringtelevisiebeeldmateriaal bestudeer en met getuies praat. Niemand is nog in hegtenis geneem nie,” lui die verklaring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Mr B ·

Ervaring leer ons dat niemand onskuldig is as hulle in n geveg betrokke is nie. Maar nog meer so as hulle kla na die tyd…

2-Kante ·

Niemand stap net na iemand toe en rand hulle aan nie. Veral nie sulke bekende mense vir wie hul reputasie op die spel is nie.
Hierdie ou se “storie” is te dik vir n daalder. Hy klink of hy n paar klappe gekort het.

Frieda Minnie ·

Johan Ackerman is te veel van ‘n gentleman om betrokke te raak in ‘n vuisgeveg in ‘n kroeg. Hy is eerstens ‘n groot Christen en sal nie betrokke raak in sulke snert nie. Nico… dink nie Johan Ackerman sal hom buiteweste drink nie… nie daardie tipe persoon nie… Het jy hom al in persoon ontmoet wel ons het… Hy het klas, en is baie ordentlik…

Hennie ·

Snaaks so rukkie terug toe die Blou Bul speler ook by so iets betrokke was , was hy dadelik skuldig bevind en nou toe die eks Leeus betrokke is word net verskonings in die lesers kommentare gehoor.

Hester ·

Nee ,hy moes eers n prokureur kry wat sy saak wou vat. As jy eers so iets doen, prokureur gaan kry dan WEET jy mos jy was verkeerd. Dit se moes vir jou iets in elke geval sy pa het op FB gaan plaas dat hy die ou net een ou geslaan het. Van agteraf. !!!! Niemand lyk sou na een hou nie. Kan jy onthou hoe lank hy in die hospitaal was??

Danie ·

Glo dit min.Te veel vir Ackers op die spel.Die outjie lyk ook glad nie ernstig afgeknou nie.Weer ‘n storie agter die storie

Gerrit ·

Daar is groot verskil tussen bulls en lion spelers die bulls is bekend vir hulle swak maniere en ou groot frik houding slaan almal wat nie saamstem nie ,die Ackermans is ordentlike mense.

Valerie ·

Wie onthou nog die “verbode middel” storie ivm Ackermann Senior?

Hester ·

Wat het dit nou daarmee te doen??? Gee konstruktiewe kommentaar of los dit liewer heelteml.

Leeu ·

Ek wonder of hy ook dat almal sien hoe bid hulle voor hulle iemand aanrand.

Sam ·

Wonder hoe klein voel jy nou dat dit bewys is dit was nie hul skuld nie…

Dries ·

Gloucestershire het klaar bevind dat die ander ouens die moeilikheid begin het, na hulle met klub personeel gepraat het en CCTV material bestudeer het. Sien asb albei kante raak Leeu, nou oor hulle gelowiges is, is jy dadelik teen hulle gekant, oordeel eers as al die feite bekend is, Ackers hulle sal nie sommer in ‘n insident betrokke raak nie, indien moeilikheid na jou kant toe kom is daar niks mee verkeerd om jouself te verdedig nie.

Leeu ·

Nee wat Ackers jnr het mós al lankal probleem n probleem…seker van daai verbode middels wat snr so aan die hande kry

Dom kroeg vegter ·

Daar moes baie drank by betrokke gewees het. Ek myself is nie klein gebou nie en het so tyd terug Johann and Ruan Ackerman in n mall in Pretoria raakgeloop. Dit is twee reuse manne, veral Johann. So die Engelse mannetjie wat probeer baard groei moes baie drank in sy bloed gehad het om te dink hy gaan sulke manne aanvat. As jy nie n beroeps bokser is of MMA fighter nie, dan bly jy weg van rugby spelers. Hulle oefen tye in die gym is langer as raadsvergaderings, so jy gaan verseker tweede kom in die geveg. Glo ook nie Johann sal sommer iemand slaan sonder rede nie, so dit was dalk in selfverdediging dat die Engelse mannetjie seer gekry het.

Stephnie ·

Ag kom nou, en hy het doodstil by sy tafeltjie gesit toe die mans hom bespring en aanrand? Ek laat my dit nie vertel nie.

Die Kryger ·

Die pommie vat n kans. Johann en Ruan. Hahaha hulle het heel moontlik verby hom geloop. Toe ruk die wind hom teen die tafel vas. As hulle 2 hom pak het nooit weer die son gesien nie. Hy lieg

lolla ·

Skies, kan nie help om te lag nie.. As n reus soos Johan die mannetjie regtig moes raak slaan, sou daai klein wintgat nie nog so mooi gelyk het nie. Dink ook nie hy sou nog bewustelik gewees hey nie… Nou hoe sal n mamparra lyk as DRIE sulke reuse jou regtig takel hhmmm????!!!!! Die mannetjie se sus moet drama klasse loop.

Sam ·

Ek het my aspris weg gehou van komentaar af tot die feite op die lappe is. CCTV het bewys die geveg is NIE deur hulle 2 begin nie en dat hulle wel hulself verdedig het.

Hans ·

Dankie vir die inligting. Selfs gewonder oor die CCTV en vat daar gaan uitkom. Weereens as jy moeilikheid soek gaan jy dit kry. Bepaal jou in sulke pleke by jou tafel of bly daar uit.

Vonnie ·

Dit is verbassend hoeveel sport sterre maak hulself skuldig aan aanranding en moord. Ek sê weer, die gemmenskap skep hierdie probleem deur hierdie mense te verafgod. Sport oorheer deesdae ons skole. Hierdie ophef gee die mense grootkop en hulle respekteer nie hul medemens nie.

Hester ·

Daar is baie seuns wat rugby speel by skole en baie goedvaar. Sou die kind dan grootkop kry en nie ander respekteer nie GAAN DIT DUIDELIK TERUG NA SY OPVOEDING TOE.
Moenie almal oor die dieselfde kam skeer nie. Jy weet nie waarvan jy praat nie.

Toy Erasmus ·

Sjoe dit so sleg…my suster se man is ook paar jaar gelede in Westonaria so deur pa en seun van bekende kuier plek oorval en aangerand . Hulle het niks oorgekom nie , my ou sussie het baie swaar gekry en moes sukkel om 3 kinders groot te maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.