Al 41 werkers ná 17 dae uit tonnel gered

Pushkar Singh Dhami omhels een van die werkers nadat hy na veiligheid gebring is. (Foto: DIPR Uttarakhand/AFP)

Die 41 Indiese werkers wat 17 dae lank in ʼn tonnel vasgekeer was, is Dinsdag suksesvol deur reddingswerkers na veiligheid gebring.

Die mans is met draagbare op wiele deur ʼn 57 m lange staalpyp na veiligheid uitgetrek voordat hulle deur staatsamptenare begroet is en hul families kon omhels.

Daar is sedert 12 November, toe ʼn gedeelte van ʼn ondergrondse tonnel in Uttarakhand in die noorde van Indië ineengestort het, van graafmasjiene gebruik gemaak om tonne puin, grond en beton te verwyder om die werkers te bereik.

Eerste minister Narendra Modi het in ’n verklaring aan die werkers gesê dat hul “moed en geduld almal inspireer”.

“Geduld, harde werk en geloof het gewen,” het Pushkar Singh Dhami, die deelstaat se hoofminister, gesê en die onvermoeide werk van al die reddingspanne geprys.

Die werkers is volgens reddingswerkers in goeie gesondheid en ’n span medici het hulle in ’n veldhospitaal ondersoek toe hulle na veiligheid gebring is.

Ná herhaalde terugslae tydens die reddingsoperasie, is die laaste gedeelte tot by die werkers met die hand gegrawe.

Die werkers is verlede week vir die eerste keer lewend gesien toe ʼn endoskopiese kamera by ʼn dun pyp, wat gebruik word om suurstof, kos en water aan die vasgekeerde mynwerkers te verskaf, afgestuur is.

Die werkers het genoeg ruimte in die tonnel gehad. Die gebied binne is sowat 8,5 meter hoog en twee kilometer lank.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.