Aussie-seevaarder, hond ná twee maande ter see gered

(Foto: Chris Mins/Facebook)

ʼn Australiese seevaarder en sy hond is veilig gevind nadat hulle twee maande lank in die Stille Oseaan gedobber het.

Tim Shaddock en sy hond Bella het in April vanjaar van die Mexikaanse kusstad La Paz op ʼn katamaran vertrek en sou sowat 6 000 km vaar voordat hulle in tropiese gebied van Frans-Polinesië sou anker gooi.

Die twee is egter gestrand op die diepsee gelaat nadat rowwe seetoestande die vaartuig beskadig en die elektroniese toestelle onbruikbaar gelaat het.

In ʼn noemenswaardige redding wat herinner aan die Tom Hanks-lokettreffer Cast Away, het die bemanning van ʼn Mexikaanse tunavistreiler man en hond twee maande later uit die water gered.

“Ek het slegs visgerei,” het Shaddock aan een van sy redders – in ʼn video wat deur Australië se Nine News verkry is – gesê.

Shaddock het die beproewing oorleef deur vir twee maande reënwater te drink en aan rou vis te peusel.

Met ʼn lang, ongeskeerde baard is die 51-jarige man sigbaar skraal aangetref nadat hy op die karige seekos-dieet oorleef het; maar hy vertel ook dat hy eintlik “baie gesond voel”.

“Ek is deur ʼn baie moeilike beproewing ter see,” het hy in die video gesê

“Ek kort net rus en goeie kos, want ek was lank alleen op die see.”

Shaddock en Bella sal volgens die TV-kanaal binnekort na Mexiko terugreis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Samuel ·

Wonderlike nuus. Die hond het seker gehelp om die eensaamheid te verdra.

KatjieDeKat ·

Ja ek weet nie hoekom die man sê hy was “lank alleen op see” nie. As jou hond by jou is, is jy nie alleen nie.

Sê maar net ·

Prysenswaardig. ‘n Wonderwerk! Dank die Here hulle is gevind en het albei oorleef!

Gaitsigubib ·

Ja hy en sy gieliefdes moet seker eintlik die Here dank, ons hoef mos nie dankbaarheid te feins nie? Dis nie asof mens elke dag gaan rou wanneer n persoon op die see vergaan nie, anders gaan jy geen normale dag in jou lewe beleef nie. Ek meen mens gaan ook nie bly wees as hy sterf nie, jy gaan maar net voel soos op enige ander dag, behalwe as jy een van sy geliefdes is, korrek?

Gaitsigubib ·

…..maar as gelowige kan jy tog noem dat dit nie sy tyd was nie, Hy wat in beheer is het so besluit….

Sê maar net ·

Die Here sê ons moet bly wees saam met die wat bly is; en treur saam met die wat treur. My dankbaarheid is opreg. Vir nog ‘n lewe wat gespaar is. Hy kry nog ‘n kans…..

Gaitsigubib ·

Ek wil net noem dat ek jou nie afgemerk het nie. Ons interpreteer nie die deel in Romeine ( waarna jy verwys), die selfde nie. Volgens my het dit betrekking op mens se naaste/ die mense naby aan jou. Ek dink jy is wel opreg en ek waardeer jou verduideliking. Die stuk waarsku ook teen eiewysheid so moet asb nie my skrywe in daardie lig beskou nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.