Aussies soek veel minder immigrante

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Joey Csunyo/Unsplash)

Die Australiese regering gaan die getal immigrante wat sedert die Covid-19-pandemie by die land instroom, ingrypend probeer verminder.

Die land se regering het ʼn reeks maatreëls aangekondig wat dit moeiliker maak vir buitelanders – van studente tot arbeiders – om die land binne te gaan. Strenger Engelse taalvereistes en hoër loondrempels gaan boonop ook ingestel word.

Sowat ʼn halfmiljoen migrante het die afgelope jaar na Australië gestroom nadat die land se grense lank ná die koronaviruspandemie gesluit was.

Die regering is oortuig dat sy hervormings – tesame met korttermyningrypings – die getal nader aan 250 000 in die 2024-’25-boekjaar sal bring.

“Ons gaan seker maak dat ons die getalle weer onder beheer bring,” het Clare O’Neil, minister van binnelandse sake, gesê.

Ondanks byna rekordhoë indiensnemingsyfers, is Australiërs toenemend gefrustreerd oor stygende lewenskoste en die duur eiendomsmark.

O’Neil het beklemtoon dat immigrasie noodsaaklik is vir Australië se welvaart en het buitelandse werkers beskryf as die “spesiale sous” wat Australië so help floreer.

“Feitlik alles wat ons gedoen het wat werklik saak maak, het behels dat ons die bestes en slimstes van oor die wêreld gevra het om ons te probeer help,” het sy gesê.

Sy het nogtans onderneem om “ʼn beter beplande stelsel vir noodsaaklikhede soos behuising te bou”.

Die Grattan-instituut, ʼn dinksentrum, is onder diegene wat die hoë immigrasiesyfers met stygende huurkoste verbind. Huurpryse in sommige woongebiede van Sydney en Melbourne het die afgelope jaar met ongeveer 25% gestyg.

Die regering het daarop gewys dat hy ʼn “dramatiese verhoging in gelde” gaan oplê vir buitelanders wat huise koop en dit leeg laat staan.

Immigrasie onverwant aan lewenskoste

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Caleb/Unsplash)

Rachel Stevens, ʼn kenner van die geskiedenis van immigrasie aan die Australiese Katolieke Universiteit, het gesê die immigrasiehervormings gaan “netsoveel oor politiek as wat dit oor beleid gaan”.

Sy het aan AFP gesê dat die verwantskap tussen stygende lewenskoste en migrasie misleidend is en die risiko skep om van die 2,2 miljoen mense wat tydelike visums het, die sondebokke te maak.

“Dit is heeltemal ʼn afsonderlike kwessie,” het sy gesê, onder meer met verwysing na die impak van stygende rentekoerse en stygende markte ná die Covid-19-pandemie.

“Wanneer daar ʼn skaarste aan ʼn hulpbron is, of dit nou werk of behuising is, is dit ʼn baie algemene reaksie vir mense in baie lande om immigrante te blameer.”

Stevens het voorgestel dat die regering dalk nou sy opposisie se stygende peilinggetalle dophou met die oog op die verkiesing wat in 2025 verwag word.

“[Dié soort maatreëls] is goed vir stemme,” het sy gesê, maar “dit is regtig gevaarlik en nogal roekeloos om al hierdie probleme op migrante te pak”.

Peter Dutton, leier van die opposisie, het die regering daarvan beskuldig dat hy ʼn “groot migrasieprogram” het.

“Ons stede is vol, die paaie is oorvol, die infrastruktuur kan nie byhou nie,” het hy vroeër vandeesmaand gesê terwyl hy voorgestel het dat immigrantegetalle verminder moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

SwartBees ·

Beteken dit nou dat die immegrante wat op strepe hier uit is weer op strepe terug gepos gaan word?

Heila Isabella ·

Dink Suid Afrika sit beslis met dieselfde probleem ma net meer onwettige immigrante dit veroorsaak groot probleme reg oor die werld

Oosieoos ·

Te laat julle was vas aan die slaap en gaan betaal vir jul foute

Olive ·

@SwartBees, ek het seker iets gemis maar wanneer is die spul op strepe hier weg? Sover ek weet vermenigvuldig hulle net daagliks.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.