
Australië se grense gaan moontlik nog tot laat volgende jaar vir die meeste reisigers gesluit bly. (Foto: Saeed Khan/AFP)
Australië gaan sy grense na verwagting tot laat volgende jaar gesluit hou terwyl nog ʼn vlaag wêreldwye Covid-19-infeksies die hoop dat dit vinniger sal heropen, laat vervaag.
Dan Tehan, minister van handel en toerisme, sê ʼn vlaag gevalle op die Indiese sub-kontinent wys dat Australië se streng verbod op besoekers steeds nodig is om die land Covid-19-vry te hou.
Australiërs is sedert 20 Maart verlede jaar verbied om oorsee te reis en uitsondering aan buitelandse besoekers word moeilik toegestaan.
Dit is “baie moeilik om te bepaal” wanneer grense sal kan heropen, het Tehan aan Sky News gesê. “Die beste raaiskoot sou wees in die middel na die tweede helfte van volgende jaar.”
Voor die pandemie het sowat ʼn miljoen korttermynbesoekers Australië elke maand binnegekom. Die syfer staan nou op nagenoeg 7 000.
Enigiemand wat die land binnekom, moet boonop 14 dae lank in streng kwarantyn in ʼn hotel bly.
Australië het altesame 29 886 gevalle van Covid-19 bevestig sedert die pandemie uitgebreek het en ʼn groot getal hiervan is opgespoor terwyl mense in kwarantyn in hotelle was.
Sowat 2,5 miljoen dosisse entstof is reeds in dié land met sy 25 miljoen inwoners versprei. Elke mens benodig twee dosisse.
Die vooruitsig dat grense byna drie jaar lank gesluit bly, is ʼn reuseterugslag vir Australië se toerismebedryf wat jaarliks sowat R570 miljard verdien.
Australië het vroeër ʼn sogenaamde reisborrel in samewerking met Nieu-Seeland begin en dit het gemengde welslae behaal.
“Ons hoop dat ons nog ʼn paar borrels kan opstel en dat ons meer reise kan onderneem, maar ons is in ʼn pandemie,” sê Tehan.
“Dit gaan heelwat afhang van hoe ons die wêreldwye pandemie hanteer.”
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
11 Kommentare
Beskawing en ‘n regering wat sorg vir sy mense en ekonomie.
Absurd! Dit kos net een persoon, na daai tyd, om die hele verspreiding van voor af te begin.
Uiters kortsigtig en gebrek aan perspektief. Hul regering, soos oral vandag, eet alles vir soetkoek.
Kom ons sluit hele wereld af niemand gaan werk meer nie dit wat almal wil he.Kanker aleen het meers sterftes as covid so wat hoefeel ander siektes kan mens nog opnoem.As regerings regtig omgee hoekom is maskers en handreinigers nie belasting vry nie?