Australiër uit krokodilkaak gered

’n Australiese man is Vrydag uit ’n die kake van ’n krokodil gered. (Argieffoto)

’n Australiese man het ’n noue ontkoming gehad toe hy Vrydag in die bek van ’n sowat 2, 5 meter lange krokodil beland het.

Die man het saam met ’n vriend in ’n rivier naby die Cape York-skiereiland in die noorde van Queensland geswem toe die voorval gebeur het. Hy het ernstige beserings aan sy kop, bors en arms opgedoen.

Die man is deur sy vriend gered, wat beserings aan sy arms tydens dié reddingspoging opgedoen het.

Die mans is glo weermagpersoneel. ’n Weermag-paramedikus wat in die omtrek was, het hom dadelik na die toneel gehaas om die man te behandel en die bloeding te probeer stop.

Die enorme reddingspoging wat ná die aanval gevolg het, het ’n helikopter én ʼn vlug na Cairns, byna 800 km suid van Cape York, ingesluit.

Albei mans sterk tans in ’n hospitaal in dié stad aan.

Denis O’Sullivan van die Queensland-ambulansdienste het aan internasionale media gesê die man kan dankbaar wees die krokodil was nie groter nie.

Cape York is deel van die kusgebied van Queensland wat as Croc Country bekend staan weens die groot aantal soutwaterkrokodille wat hier voorkom. Dié gebied strek so ver suid as Gladstone.

Queensland se omgewingsdepartement waarsku in ’n inskrywing op sy webblad dat krokodille altyd teenwoordig is, al is hulle nie sigbaar nie.

“Krokodille kan vir langer as ’n uur onder water bly en selfs in kniediep water onsigbaar wees,” lui die inskrywing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pieter J ·

Hulle weet hulle is in “Croc Country” maar swem wil hulle swem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.