Australiese vrou in hof oor ‘sampioen-moorde’

Erin Patterson (Foto: X)

ʼn Australiese vrou wat daarvan verdink word dat sy haar skoonfamilie met ʼn giftige sampioen- middagete vermoor én vier pogings aangewend het om haar vervreemde man om die lewe te bring, het Vrydag in ʼn hof in dié land verskyn.

Erin Patterson (49) van Leongatha, sowat twee uur se ry suidoos van Melbourne, staan tereg op drie aanklagte van moord nadat sy vroeër vanjaar na bewering ʼn giftige beesvleisgereg (Beef Wellington) opgedis het wat eindelik die lewe van haar skoonouers én dié van ʼn derde middagetegas, die vrou van ʼn plaaslike pastoor, geëis het.

Die beeshaasgereg het volgens die polisie giftige sampioene bevat.

Patterson het na bewering die gereg in Julie vir haar vervreemde skoonouers, Don en Gail Patterson, albei 70, sowel as die plaaslike Baptiste-pastoor Ian Wilkinson (69) en sy vrou Heather (66) bedien.

Die twee pare het na bewering later die aand simptome van voedselvergiftiging begin ervaar en het later mediese hulp ontbied.

Don en Gail Patterson en Heather Wilkinson is kort daarna dood. Die pastoor het egter herstel nadat hy byna twee maande in die hospitaal deurgebring het.

Patterson is vandeesweek in hegtenis geneem ná ʼn drie maande lange ondersoek wat gereeld die Australiese hoofopskrifte die afgelope paar maande gehaal het.

Patterson hou egter vol sy is onskuldig.

Sy beweer sy het die sampioene by ʼn Asiese kruidenierswinkel gekoop en was “verpletter” dat haar kos tot haar geliefdes se dood gelei het.

Patterson word egter ook daarvan aangekla dat sy herhaaldelik probeer het om haar vervreemde man, Simon Patterson, te vermoor.

Die polisie sê Simon het ná afsonderlike voorvalle in 2021 en 2022 “siek geword ná etes”. Sy vervreemde vrou staan nou in verband met dié voorvalle ook op vier aanklagte van poging tot moord tereg.

Die betrokke sampioene wat na bewering in die gereg gebruik is, kom in nat, warm dele van Australië voor en word maklik verwar met eetbare variëteite.

Die betrokke sampioene smaak na bewering soeter as ander soorte sampioene, maar bevat kragtige gifstowwe wat die lewer en niere stadigaan vergiftig.

Die polisie sê die saak kry ongelooflik baie aandag in die media.

“Hierdie ondersoek is die afgelope drie maande onderwerp aan ongelooflike intense vlakke van openbare ondersoek en nuuskierigheid,” het speurder Dean Thomas Donderdag ná Patterson se inhegtenisneming gesê.

“Ek kan nie aan nog ʼn ondersoek dink wat hierdie vlak van media- en openbare belangstelling gegenereer het nie, nie net hier in Victoria nie, maar ook land- en wêreldwyd.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Danie ·

Nog is vrou in daardie deel van die wêreld wat ander vermoor. En dan onskuldig pleit. Sal maar sien hoe verloop die saak.

Jixy ·

Het sy self dan nooit siek geword nie? So sy het nooit van die kos met die sampioene geëet nie…..waarom dan nie? sou ek vra.

Annelize ·

Ek wonder self daardie ding, sy moes dan ook siek geword het as sy saam geeet het, hoekom dan net die gaste? Jy sit tog saam met jou gaste aan vir ete dan nie?

Hendrik ·

Kom die goed ook hier in SA voor. Waar kan mens dit te koop kry??????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.