Bekende ‘groenoog-Afghaan’ na Italië ontruim

Sharbat Gula in 2016 (toe 45) tydens ‘n ontmoeting met president Ashraf Ghani in Kaboel. (Foto: Shah Marai/AFP)

Sharbat Gula, die wêreldbekende groenoog‑ Afghaanse vrou wat dekades gelede op die voorblad van National Geographic verskyn het, is na Italië geneem, het owerhede die afgelope week aangekondig.

“Die Afghaanse burger Sharbat Gula het in Rome aangekom,” het die Italiaanse regering in ʼn verklaring gesê, sonder om ʼn spesifieke datum aan te dui.

Rome sê hy het op pleidooie van nie-winsgewende organisasies in Afghanistan gereageer om Gula by te staan om die Taliban-beheerde land te verlaat “en het gereël dat sy na Italië reis as deel van ʼn breër ontruimingsprogram vir Afghaanse burgers en die [Italiaanse] regering se plan vir hulle ontvangs en integrasie”.

Gula het Afghanistan se bekendste vlugteling geword nadat die Amerikaanse fotograaf Steve McCurry in die 1980’s ʼn portretfoto van haar in ʼn Pakistanse kamp geneem en dit op die voorblad van die bekende tydskrif gebruik is.

Die Amerikaanse fotograaf Steve McCurry saam met die foto getiteld “Afghan Girl”, wat hy in die 1980’s van Sharbat Gula geneem het. Die foto het wêreldwyd bekend geraak toe dit op die voorblad van die National Geographic-tydskrif gepubliseer is. (AFP Photo/DPA/Ulrich Perrey/Germany Out)

Gula het as weeskind in Pakistan aangekom, ʼn paar jaar ná die Sowjet-inval van 1979, en was sedertdien een van miljoene Afghane wat elders ʼn veilige hawe moes vind.

Sy is in 2016 terug na Afghanistan gedeporteer nadat sy in hegtenis geneem is omdat sy met bedrieglike identiteitsdokumente in Pakistan gebly het.

Rome het vroeg in September gesê hy het amper 5 000 Afghane uit die land geneem nadat die Taliban in Augustus opnuut beheer oor die land geneem het.

Italië het vroeër vandeesmaand gesê hy het burgerskap toegestaan aan Afghanistan se eerste vroue-aanklaer, Maria Bashir, nadat sy op 9 September in dié Europese land aangekom het.

Italië was een van vyf lande met die grootste betrokkenheid by Nato se sending in Afghanistan onder leiding van die VSA, saam met Duitsland, Brittanje en Turkye.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Hardekwas ·

Bokwagters en ander van midde ooste en afrika is welkom in europa om vlugtelingstatus te kry, behalwe suid afrikaners.

piet ·

Jy’s mos nie ‘n vlugteling nie (alhoewel jy blykbaar graag as een gekwalifiseer wil wees). Ongelukkig sal jy eers bietjie oorlog moet deurmaak.

Swartskaap ·

Wie sê die persoon kla? Dalk verwys hy/sy na Suid Afrikaners wat baie moeilik na Europa op n wettige wyse kan emigreer, vergeleke met hordes ander “vlugtelinge” wat met ope arms daar verwelkom word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.