Bekende kletsprogramaanbieder Jerry Springer oorlede

Jerry Springer (Augustus 2010) (Foto: Alberto E. Rodriguez/Getty Images North America/AFP)

Die legendariese Amerikaanse kletsprogramaanbieder Jerry Springer, wie se program bekend gestaan het vir die bakleiery deur die gaste, vloekery en onthullings oor ontrouheid, is in die ouderdom van 79 oorlede, het Amerikaanse media Donderdag berig.

Springer se program het ʼn internasionale treffer geword en was 27 jaar lank op die lug.

Hy is vreedsaam by sy huis in Chicago oorlede ná “ʼn kort siekbed”, het ʼn familiewoordvoerder volgens TMZ gesê.

Die woordvoerder het nie enige verdere besonderhede verskaf nie.

TMZ berig Springer is ʼn paar maande gelede met pankreaskanker gediagnoseer, aldus anonieme bronne.

The Jerry Springer Show is in 1991 vir die eerste keer uitgesaai as ʼn gewone kletsprogram wat fokus op maatskaplike kwessies en Amerikaanse politiek. Dit is gelei deur die – in daardie stadium – saggeaarde prokureur en voormalige politikus Springer, wat vir ʼn kort rukkie lank as die burgemeester van Cincinnati in 1977 gedien het.

In ʼn poging om kykersgetalle ʼn hupstoot te gee, het Springer, die seun van Joods-Duitse immigrante, dinge ná ʼn paar jaar dramaties begin verander. Hy het op gewaagde en buitensporige inhoud begin fokus. In meeste episodes het gaste oor gesinsprobleme kom gesels en ontrouheid en ander oortredings onthul.

Springer sou oënskynlik poog om as bemiddelaar op te tree, maar die vuiste het soms geswaai en gaste moes deur veiligheidswagte onder beheer gebring word.

Die program was in die laat 1990’s een van die gewildste dagprogramme in die VSA en het selfs Oprah met kykergetalle geklop. Die program het in 2018 tot ʼn einde gekom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

TruthDealer ·

Ek het een of twee keer die Jerry Springer show gekyk en dit was genoeg. Not my cup of tea. Daar is seker mense wat dit geniet om te sien hoe ander mense hul name met n plank slaan maar ek hou nie van sulke goed nie. Ek het die gevoel gekry dis uitbuiting van lae IK mense.

ES ·

Dis dieselfde as mense wat na programme kyk soos die Kardashians en Real Housewives. Op die ou einde sien jy dat geld nie klas kan koop nie, en meeste van daardie mense is kommin verby.

houopkruip ·

Stem saam.
En dieselfde kan gese word van baie (indien nie die meeste) Afrikaanse TV programme (en aanbieders).

Janice ·

Dit was altyd vir my nogal komies hoe niemand ooit na “daardie gemors” gekyk het nie, maar kon die volgende dag in detail saampraat oor die vorige aand se program.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.