Beursie terug by eienaar, 53 jaar later

(Argieffoto: pixabay)

AFP 

ʼn Meteoroloog in die Amerikaanse vloot was aangenaam verras om ʼn beursie wat hy 53 jaar gelede – nogal in Antarktika – verloor het, terug te kry.

Paul Grisham (91) kon nie eens onthou dat hy dit verloor het toe vriendelike vreemdelinge met hom kontak gemaak en dit na hom gepos het nie, het The San Diego Union-Tribune die afgelope week berig.

Dié verrassende ontdekking is in 2014 gedoen tydens die afbreek van ʼn navorsingsbasis op Rosseiland, waar Grisham tussen Oktober 1967 en November 1968 as weervoorspeller gevestig was.

Grisham se beursie was agter ʼn sluitkas versteek en het onder meer sy vlootidentiteitskaart, rybewys, ʼn kaartjie met wenke oor wat om te doen in geval van ʼn biologiese of chemiese wapenaanval en ʼn rantsoenkaartjie vir bier bevat.

Grisham het gesê hy was stomgeslaan omdat soveel mense soveel moeite gedoen het om die beursie terug te besorg.

Dit het egter geruime tyd geduur vir die barmhartige samaritane om die item by Grisham te kry.

Die hoof van ʼn navorsingsgroep in Antarktika het een van sy voormalige werkers genader wat vantevore suksesvol ʼn ID-bandjie van die vloot – wat in ʼn winkel te koop aangebied is – met sy regmatige eienaar herenig het.

Die man en sy dogter het ʼn stigting vir veterane genader, wat op hul beurt weer die Vlootweerdiensvereniging, waarvan Grisham ʼn lid was, ingelig het.

Die beursie het uiteindelik verlede Saterdag in ʼn betreklik goeie toestand by Grisham se huis in San Carlos, in die noorde van Kalifornië, aangekom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Blomme ·

Dis nou sommer lekker om vir ń slag van sulke goeie dinge te lees.. Dit is goed vir siel en gees.

Piet ·

Daar is darem nog earlike mense op die aarde. Ek wens ander wil ook so eerlik wees.

Stof ·

Insette soos hierdie is so bemoedigend. Mag elke rolspeler in die proses om die beursie terug te besorg, weet hulle word waardeer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.