Bolsjoi-kunstenaar sterf in ongeluk op verhoog

Bolsjoi-teater (Foto: A. Savin via Wikimedia Commons)

ʼn Kunstenaar van Rusland se legendariese Bolsjoi-teater is Saterdag dood in ʼn ongeluk op die verhoog tydens ʼn opera-uitvoering, het die Moskou-maatskappy gesê.

Die voorval het plaasgevind tydens ʼn stelverandering in Sadko, ʼn 19de eeuse opera deur die Russiese komponis Nikolai Rimski-Korsakof.

“Die vertoning is dadelik gestaak en die gehoor is gevra om die gebou te verlaat,” het ʼn woordvoerder van die teater aan Interfax-nuusagentskap gesê.

Moskou se ondersoekende komitee het in ʼn verklaring gesê ondersoek word ingestel na die afsterwe van die 37-jarige Jefgeni Kulesj. Hy was deel van ʼn groep van 50 Bolsjoi-werknemers wat as ekstras op die verhoog verskyn saam met die sangers en dansers. Kulesj het aan sy beserings beswyk voor ʼn ambulans opgedaag het.

ʼn Video van die voorval wys hoe ʼn stelverandering tydens die uitvoering plaasvind en een van die akteurs op die verhoog dan sy arms waai om hulp te roep.

Interfax berig die kunstenaar is deur ʼn stuk van die dekor beseer tydens die stelverandering.

Dit is nie die eerste tragedie wat Moskou se bekroonde teater tref nie. ʼn Senior violis is in 2013 dood nadat hy in die orkesbak geval het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.