Brexit-gesprekke val vas

Brexit (Foto: Elionas2/Pixabay)

Brexit-onderhandelinge tussen die Verenigde Koninkryk en die Europese Unie (EU) het teen Maandag steeds met geen oplossings vorendag gekom vir visvangregte, reëls vir billike handel en ʼn toepaslike afdwingingsmeganisme nie.

Onderhandelinge tussen Michel Barnier, hoofonderhandelaar van Brussel, en sy Britse eweknie, David Frost, het oornag tot ʼn einde gekom.

Barnier het vanoggend tydens ʼn krisisvergadering ambassadeurs van EU-lidlande in kennis gestel oor die bedreigings indien ʼn ooreenkoms nie bereik word nie. Micheál Martin, premier van Ierland, het gewaarsku dat die kans op ʼn ooreenkoms slegs “50/50” is.

Brittanje het die EU op 31 Januarie formeel verlaat en is tans in ʼn oorgangstydperk wat oorspronklik bedoel is om toekomstige bande te vorm.

Die doel van die onderhandelinge is om ʼn handelsverhouding te vestig met geen tariewe en kwotas nie, in die hoop om grootskaalse ontwrigting op 1 Januarie te vermy wanneer Brittanje die EU se interne mark amptelik verlaat.

Barnier en Frost sal na verwagting later vandag weer in gesprek tree.

Volgens verskeie bronne is die moeilikste kwessie oor hoe om billike handel te waarborg en ʼn doeltreffende boetesisteem in werking te stel indien een van die partye teruggaan waarop ooreengekom is, soos omgewings- of gesondheidstandaarde.

Brittanje is glo huiwerig om ʼn breë en bindende ooreenkoms te aanvaar en beskou dit as ʼn inbraak op sy nuutgevonde soewereiniteit ná ʼn 47 jaar lange lidmaatskap van die EU.

“As die gesprekke nou misluk, het die twee partye nie daarin geslaag om saam te stem wat vuilspel is en wat om daaromtrent te doen nie,” het ʼn EU-diplomaat gesê.

Die gevolg

Die pond het intussen met meer as een persent teenoor die dollar teruggesak nadat The Sun berig het dat premier Boris Johnson die handelsgesprekke met die EU gaan laat vaar.

Volgens The Sun is Johnson gereed om binne ʼn paar uur die gesprekke te beëindig as gevolg van die EU se eise.

Sonder ʼn ooreenkoms sal daar vanaf 1 Januarie tariewe op die aansienlike hoeveelheid handel wat deur die Engelse Kanaal en per skip tussen Brittanje en die Europese vasteland beweeg, gehef word.

Reisigers aan weerskante sal geraak word deur verdere paspoortvertragings, terwyl buitelandse inwoners en ondernemings ook struikelblokke sal ervaar.

Martin dring daarop aan dat die skeiding sonder ʼn ooreenkoms baie skadelik sal wees vir  Brittanje se ekonomie, asook die ekonomieë van Ierland en EU-lidlande.

“Dit is baie belangrik dat gesonde verstand seëvier en dat ʼn ooreenkoms bereik word.”

Frankryk is glo die huiwerigste om ʼn kompromis aan te gaan, veral met betrekking tot vissersregte en die handhawing van reëls vir billike handel.

Alle oë sal nou op Donderdag se EU-beraad wees wanneer ʼn uiteensetting van enige ooreenkoms, of gebrek daaraan, aan die 27 nasionale EU-leiers voorgelê word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Andrew ·

Moet maar dit aanvaar, maak nie saak hoe huil die multikultuur sport persoonlikhede, wereld media en vermaaklikheids wereld oor die kastige nadelige gevolge nie, brexit gaan gebeur.

Kokerboom ·

Laat my dink aan die gesegde: Britain rules the waves and now Britain waves the rules

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.