Britse dubbelagent sterf op 98

George Blake (Foto: Outeur onbekend via Wikimedia Commons)

George Blake, ʼn berugte spioen in Britse intelligensie wat tydens die 1950’s vir die Soewjet-KGB spioeneer het voor hy oor die Ystergordyn gevlug het, is in die ouderdom van 98 oorlede.

“Die legendariese intelligensiebeampte George Blake is vandag oorlede,” het Sergei Ivanov, woordvoerder vir Rusland se SVR-intelligensiediens, Saterdag aan die TASS-staatsnuusagentskap gesê. “Hy het ons land innig lief gehad en ons mense se prestasies tydens die Tweede Wêreldoorlog bewonder.”

Volgens Ivanov het Blake “weens sy hoë ouderdom” gesterf. “Sy hart het ophou klop.”

Blake was ʼn Britse spioen wat as ʼn dubbelagent vir die Soewjet-Unie gewerk het. Hy het ʼn kommunis geword en besluit om vir die KGB te werk toe hy ʼn gevangene was tydens die Koreaanse Oorlog. Sy aktiwiteit is in 1961 onthul en hy is in Londen tot 42 jaar tronkstraf gevonnis. Hy het in 1966 uit Wormwood Scrubs-gevangenis in die Verenigde Koninkryk ontsnap en na die Soewjet-Unie gevlug waar hy tot met sy dood gebly het.

Blake het ontken dat hy ʼn verraaier was en gesê hy het nooit soos ʼn Brit gevoel nie. “Om te verraai, moet mens eers aan iets behoort. Ek het nooit behoort nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.