Britse joernalis vermis in Amasone

Dom Phillips (Foto: Twitter)

’n Britse vryskutjoernalis en Brasiliaanse inheemse spesialis het Sondag vroegoggend vermis geraak toe hulle per boot in die Javari-vallei in Brasilië, naby die grens met Peru, gereis het.

Die joernalis, Dom Phillips (57), en spesialis, Bruno Pereira (41), was in die omgewing om ’n boek na te vors.

Ongeveer 48 uur nadat die twee vermis geraak het, het die vermoede ontstaan dat hulle dalk iets oorgekom het, hetsy weens ’n ongeluk of vermoedelike vuilspel.

Vuilspel word vermoed nadat die twee die week tevore dreigemente ontvang het rakende hul werk in die afgeleë streek.

Teen Dinsdagaand het owerhede nog geen benul gehad oor waar die twee hulle bevind nie.

Volgens die Amazonas-staatspolisie het hulle ’n “verdagte” ondervra, asook vier mense as “getuies”. Niemand is tot dusver nog in hegtenis geneem nie.

Geliefdes hoop, wag en bid

Geliefdes hoop, wag en bid dat die twee gevind sal word.

Phillips se familie en vriende het by die Brasiliaanse regering gepleit om die soektog na Phillips en Pereira uit te brei.

“Ons het nog hoop dat hulle gevind sal word. Al is dit nie lewend nie, bring net my geliefde man terug,” het Phillips se vrou, Alessandra Sampaio, in die video gepleit.

Volgens die Brasiliaanse regering tref die polisie “alle moontlike maatreëls om die mans so vinnig moontlik op te spoor”.

Owerhede is daarvan beskuldig dat hulle nie dringend genoeg opgetree het nie.

Die departement van verdediging het in ’n verklaring gesê die weermag het sedert Maandag altesaam 150 soldate ontplooi. Hierdie soldate ken die oerwoud soos die palm van hul hand en voer gereeld daar soektogte uit.

Drie inheemseregte-groepe in die streek het vroeër in ’n gesamentlike verklaring gesê dat net ses staatspolisiebeamptes aktief aan die soektog deelneem en het die regering aangemoedig om helikopters en ’n taakspan te ontplooi.

“Die Brasiliaanse regering was baie traag om op te tree, in ’n situasie waar vinnige optrede noodsaaklik is,” het die Wêreldnatuurfonds (WWF) se Brasilië-kantoor in ’n verklaring gesê.

Brasilië se federale polisie het later gesê hulle het ’n tweede helikopter ontplooi om met die soektog te help.

Die Brasiliaanse president, Jair Bolsonaro, het kritiek uitgespreek oor die twee mans wat manalleen die woud ingevaar het.

Hy beskryf die Amasone as “’n wilde wêreld” waarin “enigiets kan gebeur”.

“Miskien was daar ’n ongeluk, miskien is hulle tereggestel,” het Bolsonaro gesê.

Phillips, wat in die stad Salvador gevestig is, het Pereira in 2018 na die Javari-vallei vergesel, om ’n berig vir die Britse koerant Guardian, vir wie hy gereeld skryf, te doen.

Die reservaat van 85 000 vierkante kilometer is die tuiste van ongeveer 6 300 inheemse mense wat in 26 groepe verdeel is. Altesaam 19 van hierdie groepe het feitlik geen kontak met die buitewêreld nie.

Brasilië se agentskap vir inheemse sake, Funai, se basis is in dié vallei geleë, wat opgerig is om inheemse inwoners te beskerm. Hierdie basis het die afgelope paar jaar verskeie kere onder aanvalle deurgeloop.

In 2019 is ’n Funai-beampte daar doodgeskiet.

Die streek het die afgelope paar jaar ’n oplewing van onwettige mynbou, houtkappery en stropery beleef, en die afgeleë ligging daarvan maak dit ’n toevlugsoord vir dwelmsmokkelaars, het Fiona Watson, navorsingsdirekteur by die inheemseregte-groep Survival International, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marius ·

Dit gaan al verewig aan maar die vrot brasiliaanse regering doen niks aan die onwettige bedrywighede nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.