Broers onskuldig bevind ná 24 jaar in tronk

George en Melvin DeJesus is vrygelaat nadat die hof hulle vrygespreek het van die moord op Margaret Midkiff in 1995. (Foto: Facebook/ WMU Cooley Law School)

Twee broers van Michigan in die VSA is ná 24 jaar herenig nadat hulle verkeerdelik tronk toe gestuur is vir ʼn moord wat hulle nie gepleeg het nie.

George en Melvin DeJesus is Dinsdag vrygelaat nadat die hof hulle vrygespreek het van die moord op Margaret Midkiff in 1995. Sy is dood in haar huis in Pontiac aangetref.

“Ek is buite myself van blydskap. Ek het so lank hiervoor gewag,” het Melvin buite die tronk aan CNN gesê terwyl hy sy broer omhels het.

Luidens ʼn verklaring deur die kantoor van die staatsaanklaer in Michigan is die twee in aparte tronke aangehou en het hulle mekaar meer as 24 jaar laas gesien.

Hulle is aanvanklik tot lewenslank tronkstraf sonder parool gevonnis, ten spyte daarvan dat albei ʼn geldige alibi ten tyde van die verhoor gehad het. DNS wat op die toneel geneem is, het hulle ook nie met die moord verbind nie.

George en Melvin DeJesus is vrygelaat nadat die hof hulle vrygespreek het van die moord op Margaret Midkiff in 1995. (Foto: Facebook/ WMU Cooley Law School)

Brandon Gohagen, wie se DNS wel op die toneel gevind is, het egter destyds aan die hof gesê dat Melvin hom gedwing het om die slagoffer seksueel aan te rand en dat die broers later self die slagoffer vasgebind en doodgeslaan het. Gohagen het ʼn pleitooreenkoms met die staat aangegaan, waarvolgens hy teen die broers sou getuig in ruil vir ʼn ligter vonnis.

Die broers is gevolglik in 1997 skuldig bevind en tronk toe gestuur.

Nuwe bewyse het egter intussen aan die lig gekom wat hul onskuld bewys. Dit kom nadat Gohagen skuldig bevind is aan die verkragting en moord van nóg ʼn Pontiac-vrou voor Midkiff se dood. Verskeie ander vroue het ook intussen vorendag gekom en aan ondersoekers gesê dat hulle deur Gohagen “emosioneel, fisiek en seksueel mishandel is”.

Dié bewyse is deur die nuutgestigte eenheid vir integriteit van skuldigbevindings (CIU) in Michigan onder die loep geneem. Die eenheid het met twee plaaslike universiteite se regsfakulteite saamgewerk en kon op die ou einde bewys dat die twee broers inderdaad niks met die moord te doen gehad het nie. Dit sluit in ʼn verklaring van ʼn getuie wat die broers se alibi’s gestaaf het. Die broers het aangevoer hulle was saam met Gohagen by ʼn partytjie die aand van die moord, maar dat al drie daarna hul eie rigting ingeslaan het.

“Altesaam 25 jaar van jul lewens is van julle af weggevat en kan nie teruggekry word nie,” het regter Martha Anderson Dinsdag tydens ʼn verhoor op Zoom gesê. “Hopelik kan julle berusting vind daarin dat julle nou weer by jul familie kan aansluit en ʼn normale lewe buite die mure van die tronk kan begin.”

Volgens die kantoor van die aanklaer is hierdie die derde en vierde skuldigbevindings wat danksy die CIU omgekeer is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

nikkel ·

Baie hartseer dat so iets moes gebeur.

Terwyl ek dink dat die juries meestal reg is, dink ek dat die juries val vir wie die beste vertoning lewer. Aanklaer vs verdediging.

Lyk ook soms of sommige bewysstukke of getuienis nie in ag gneem word as dit nie die aanklaer se saak steun nie.

Geen idee hoe dit vermy kan word nie, tensy daar een of ander oorsig in plek gesit word nie.

Hoop hulle word finansieël vergoed vir die staat vir hierdie onreg.

Blikkies ·

Presies dieselfde as die swak jurie met die verhoor van die Polisiebeampte wat kamstig direk verantwoordelik was vir die dood van George Floyd? en die geval van growwe miskenning van die reg in die Polisievrou Kom Potter se saak. Duidelik word nie alle bewyse en getuienis in ag geneem nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.