Céline gesels eerste keer ná skokdiagnose

Céline Dion op die voorblad van Vogue France. (Foto: Instagram/@voguefranc)

Die Kanadese pop-megaster Céline Dion, wat aan ʼn seldsame neurologiese afwyking ly, het in haar eerste onderhoud sedert die aankondiging van haar diagnose gesê dat sy gesond is, maar die lewe tans “een dag op ʼn slag” aanpak.

Die 56-jarige Dion, wat op die jongste voorblad van die Franse weergawe van die modetydskrif Vogue pronk, het in Desember 2022 onthul dat sy met Moersch-Woltman-sindroom, ook bekend as stiff person syndrome of SPS, gediagnoseer is.

Dit veroorsaak spierstyfheid en pynlike spasmas en lei tot aansienlike bewegingsinperking. Hoewel dié siekte slegs een tot twee mense uit ʼn miljoen raak, is dit moeilik diagnoseerbaar en het dit ʼn reuse-impak op ʼn persoon se lewensgehalte.

Sy het aan Vogue gesê hoewel dit “redelik goed” met haar gaan, verg haar diagnose “baie werk”. Sy moet vyf dae per week atletiese, fisieke en vokale terapie ondergaan.

Daar is geen geneesmiddel vir SPS nie, maar behandeling kan die simptome beheer.

“Ek het nie die siekte oorwin nie, want dit is steeds in my en sal altyd wees. Ek hoop vir ʼn wonderwerk, ʼn manier om dit met wetenskaplike navorsing te genees, maar vir nou moet ek leer om daarmee saam te leef,” het sy bygevoeg.

In Mei verlede jaar moes Dion ʼn reeks vertonings wat vir 2023 en 2024 geskeduleer was gedwonge kanselleer.

Sy is in Februarie vanjaar die laaste keer in die publiek gesien toe sy die Grammy-toekennings met ʼn verrassingsverskyning bygewoon het. Sy het die Album van die Jaar-toekenning aan Taylor Swift oorhandig.

Op die vraag oor wanneer sy na die verhoog terugkeer, het Dion aan Vogue gesê sy “kan dit nie nou dadelik antwoord nie”.

“Ek weet nie … My liggaam sal my sê,” het sy verduidelik.

Maroela Media het vroeër berig die stromingsdiens Amazon Prime Video het verlede maand aangekondig dat hy die regte verkry het om ʼn dokumentêre rolprent oor Dion te vervaardig.

Dié fliek, I Am: Céline Dion, sal deur die Oscar-benoemde rolprentmaker Irene Taylor gemaak word en ʼn rou en persoonlike blik gee op die 55-jarige sangeres se stryd met SPS.

“Tydens hierdie afwesigheid het ek besluit ek wil hierdie deel van my lewe dokumenteer, om bewustheid van hierdie onbekende toestand te probeer kweek en om ander te help wat hierdie diagnose deel,” het die sanger in ʼn sosialemediaplasing oor die fliek geskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Katrina ·

Ag nee my magtag….! Celine is steeds ‘n pragtige vrou, watse pienk monstrosity laat hulle haar aantrek vir die voorblad?! Sy is gewoonlik so elegant tydens haar optredes, ‘n netjiese aandrok in tipiese Celine-styl sou mos nou baie meer waardigheid aan haar gegee het, veral nou dat die SPS sy merk op haar begin maak…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.