Hollywood: Céline maak hart oop oor gesondheid in dokkie; Cher se voogdyskapaansoek misluk

Céline Dion het in 2022 die nuus oor haar diagnose met Stiff Person Syndrom gedeel. (Foto: Céline Dion/Instagram)

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van die week se jongste internasionale vermaaknuus.

Dokkie bekyk Céline se gesondheidstryd

Die stroomdiens Amazon Prime Video het vandeesweek aangekondig dat hy die regte verkry het om ʼn dokumentêre rolprent oor die Kanadese popsanger Céline Dion te vervaardig.

Dié fliek, I Am: Céline Dion, sal deur die Oscar-benoemde rolprentmaker Irene Taylor gemaak word en ʼn rou en persoonlike kykie gee in die 55-jarige sangeres se stryd met Moersch-Woltman-sindroom, ook bekend as “Stiff Person Syndrome”.

Céline het in Desember 2022 bekendgemaak dat sy aan dié seldsame neurologiese afwyking ly en dat haar stem daardeur beïnvloed is.

Dié toestand het kenmerke van ʼn outo-immuunsiekte en simptome sluit onder meer spierspasmas en groter sensitiwiteit vir geraas en aanraking in.

Die sanger is gevolglik gedwing om haar Courage-wêreldtoer af te stel.

“Hierdie laaste paar jaar was vir my so ʼn uitdaging, die ontdekking van my toestand, om te leer hoe om daarmee saam te leef en dit te bestuur, maar om nie toe te laat dat dit my definieer nie. Soos die pad na die hervatting van my loopbaan voortduur, het ek besef hoeveel ek dit mis om my aanhangers te sien.

“Tydens hierdie afwesigheid het ek besluit ek wil hierdie deel van my lewe dokumenteer, om bewustheid van hierdie onbekende toestand te probeer kweek en om ander te help wat hierdie diagnose deel,” het die sanger in ʼn sosialemediaplasing geskryf.

Amazon beskryf die fliek as ʼn “emosionele, energieke en poëtiese liefdesbrief aan musiek”.

Dit is nog nie bekend wanneer die fliek op die platform te sien sal wees nie.

Cher se seun “Strong Enough” sonder ingryping

Die Amerikaanse sanger Cher se versoek om tydelike voogdyskap oor haar seun Elijah Blue Allman is deur ’n regter in die VSA afgekeur.

BBC berig die sanger het verlede jaar die bevel ingedien weens Allman se beweerde dwelmmisbruik en geestesgesondheidskwessies.

Sou dié aansoek slaag, kon die “Strong Enough”- sanger ʼn soortgelyke ooreenkoms gehad het as die bevel wat Britney Spears se pa, Jamie Spears, vir 13 jaar beheer oor onder meer haar persoonlike finansies gegee het.

Dit word gewoonlik deur ʼn hof toegestaan ​​vir individue wat nie hul eie besluite kan neem nie weens fisieke of geestesiektes.

Cher se prokureurs het gesê dat sy nie noodwendig enige direkte beheer oor Allman se geld soek nie, en sal bly wees as ʼn hof-aangestelde finansiële bestuurder sy geldsake hanteer, berig AFP.

Die sanger sê sy vrees wel dat haar seun se lewe in gevaar is as hy die heeltyd toegang gegee word tot die trust wat aan hom nagelaat is deur sy pa, die rocker Greg Allman.

Regter Jessica A Uzcategui het die petisie van die hand gewys hoewel sy steeds ʼn groter, langtermyn-konserwatorskap by ʼn verhoor in Maart sal oorweeg, aldus BBC.

“Gossip Girl”-akteur vra die jawoord

Die Gossip Girl-akteur Ed Westwick het nuwe betekenis aan die Engelse gesegde “love is in the air” gegee toe hy die jawoord op ʼn hangbrug in Switserland gevra het.

Die Engelsman het onlangs foto’s op Instagram gedeel waarin hy sy meisie van amper drie jaar, Amy Jackson, te midde van ʼn ski-uitstappie gevra het om sy vrou te word.

Westwick het in 2006 bekendheid verwyf vir sy rol as Gossip Girl se Chuck Bass. Jackson het onlangs die rol van Imra Ardeen Supergirl vertolk.

Die paartjie het in 2021 ontmoet by die Silverstone- renbaan, aldus People.

Jackson het ʼn vyfjarige seun uit ʼn vorige huwelik met die sakeman George Panayiotou.

Hollywood blom van babanuus

Die sangeres en voormalige Disney Channel-aktrise Ally Michalka gaan binnekort klein Mickey Mouse-oortjies kan aanskaf.

Michalka het Woensdag in ʼn Instagram-plasing aangekondig dat sy en haar man, Stephen Ringer, hul eerste pienkvoet verwag. Die paartjie is in 2015 getroud en was volgens die sanger nie haastig om hul gesin uit te brei nie.

Sy het aan People vertel dat sy dié nuus uitgevind het die oggend van haar en haar suster, AJ Michalka, se onlangse uitverkoopte konsert in die Greek-teater in Los Angeles.

Michalka het destyds in die Disney Channel-reeks Phil of the Future gespeel. Sy en haar suster sing sedert 2004 saam onder die naam “Ally and AJ” en het in 2010 die treffer “Potential Breakup Song” bekendgestel.

Elizabeth Moss, bekend vir haar rol in die distopiese televisiereeks The Handmaid’s Tale, het ook vandeesweek haar swangerskap op die geselsprogram Jimmy Kimmel Live aangekondig.

Die 41-jarige aktrise het gesê sy voel “regtig gelukkig” tydens haar swangerskap en sê “dit gaan baie goed”.

Dit is nog nie bekend wie die pa van Moss se eersteling is nie. Sy was voorheen getroud met die komediant Fred Armisen.

Suits weer stroomdienstreffer

Suits, die regstrefferdrama, is in 2023 vir ʼn rekord 57,7 miljard minute op Netflix gekyk volgens onlangse data van die media-ontleders Nielsen.

Die reeks, wat die eerste keer van 2011 tot 2019 op televisie was, het danksy dié syfers ‘n nuwe Amerikaanse stroomrekord opgestel, aldus die BBC.

Dit het The Office se vorige rekord van 57,1 miljard minute, wat in 2020 opgestel is, geklop.

Meghan Markle het bekendheid verwerf vir haar rol as Rachel Zane in “Suits”. (Foto: Instagram/@suitspeacock)

Hoewel Suits al geruime tyd op Suid-Afrikaanse Netflix-kykers se skerms te sien is, het Amerikaanse gehore eers in Augustus 2023 toegang tot dié program gekry. Dit was voorheen slegs op die Amerikaanse televisiekanaal NBC te sien.

Daar word beweer dat kykers se lus vir nostalgie, sowel as Meghan Markle se populariteit en haar en prins Harry se opspraakwekkende Netflix- dokumentêre reeks, Harry and Meghan, moontlik ʼn bydrae tot die program se Amerikaanse stroomdienssukses gelewer het.

Bronne: BBC, People, LA Times,Hello!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.