Christie’s hou grootste kunsveiling ooit

La montagne Sainte-Victoire deur Paul Cézanne, gewaardeer op meer as $100 miljoen (via Wikimedia Commons)

Christie’s-afslaers het Donderdag aangekondig dat hy die kunsversameling van die wyle Microsoft-medestigter Paul Allen te koop gaan aanbied. Die versameling is na verwagting meer as $1 miljard (meer as R16,8 miljard) werd.

Meer as 150 kunswerke wat oor 500 jaar strek sal in November onder die hamer kom. Volgens die afslaers is dit “die grootste en mees besonderse kunsveiling in die geskiedenis”.

Die werke sluit in “La montagne Sainte-Victoire” deur die Franse skilder Paul Cézanne, met ʼn waarde van meer as $100 miljoen.

Die veiling word gehou in samewerking met die oorlede miljardêr se boedel. Alle opbrengste sal aan liefdadigheidsorganisasies geskenk word, volgens Allen se wense. Hy was ʼn ywerige kunsversamelaar, filantroop en uitvinder.

Allen is in 2018 in die ouderdom van 65 oorlede. Hy het Microsoft in 1975 saam met Bill Gates gestig. Hulle het saam die PC-bedryfstelsel uitgedink wat ʼn fortuin gemaak het vir dié Amerikaanse tegnologiereus.

Allen het die maatskappy in 1983 verlaat weens gesondheidsprobleme. Sy vriendskap met Gates, wat tot 2000 aan die hoof van Microsoft gestaan het, het ook begin agteruitgaan.

Die rekord vir ʼn privaat versameling is vanjaar op ʼn veiling gehaal deur die Amerikaanse egpaar Harry en Linda Macklowe, toe $922 miljoen se stukke deur Sotheby’s-afslaers verkoop is.

Buiten die werk deur Cézanne, sluit Allen se versameling ook ʼn werk genaamd “Small False Start” deur die Amerikaanse skilder Jasper Johns in, gewaardeer vir meer as $50 million, het die New York Times berig.

Christie’s het nie bekendgemaak wat nog by die versameling ingesluit is nie, maar ʼn reisende uitstalling in 2016 het ʼn voorskou gegee van die omvang van Allen se skatte: daar was werke deur Monet, Manet, Klimt en ander.

Vanjaar is een van die hoogtepunte in die kunswêreld. Buiten die Macklowe-veiling, is ʼn Andy Warhol-werk van Marilyn Monroe in Mei vir $195 miljoen verkoop – ʼn rekordbedrag vir ʼn werk uit die 20ste eeu.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pietertjie ·

Heng, daai skilderye is minder werd as die jaarlikse rente op Eskom se skuld!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.