Covid-19-samevatting: Tier toets positief

Nadia, die Maleise tier. (Foto: Julie Larsen Maher/Wildlife Conservation Society via AP)

’n Tier in ’n dieretuin in New York het positief getoets vir die nuwe koronavirus. Sy is vermoedelik die eerste dier in die VSA en die eerste tier ter wêreld om Covid-19 op te doen.

’n Vier jaar oue Maleise tier genaamd Nadia is een van ses diere van die Bronx-dieretuin wat onlangs ’n droë hoes opgedoen het. Nadia is later vir Covid-19 getoets en die uitslae was positief. Nadia het vermoedelik by ’n werknemer van die dieretuin aangesteek wat nie simptome van die virus getoon het nie. “Ek kon dit nie glo nie,” sê Jim Breheny, direkteur van die dieretuin.

Die koronavirus is vermoedelik van diere na mense oorgedra en slegs ’n handvol diere in Hongkong het reeds positief vir Covid-19 getoets. Nadia word as ’n unieke geval beskou aangesien sy siek geword het nadat sy aan ’n werknemer van die dieretuin blootgestel is, sê Paul Calle, hoofveearts van die Bronx-dieretuin. Volgens Calle is dit nie duidelik watter werknemer die tier aangesteek het nie.

“Dit is die eerste keer dat ons van enige plek ter wêreld hoor waar ’n mens ’n dier aangesteek en die dier siek geword het,” sê Calle.

Altesaam 1 287 169 bevestigde Covid-19-gevalle is sedert Desember in 208 lande en twee passasierskepe aangemeld. Altesaam 70 535 pasiënte oor die hele wêreld het reeds weens Covid-19 gesterf.

Die owerhede staan Sondag wag in Milaan, Italië. (Foto: Claudio Furlan/LaPresse via AP)

Europa

Die aantal daaglikse sterftes in Spanje en Italië neem af.

Hoewel Spanje Maandag 4 273 nuwe gevalle van die koronavirus en 637 nuwe sterftes aangemeld het, is dit die vierde dag dat die land se aantal daaglikse gevalle en sterftes afneem, teenoor die vorige dag. Dié land het tans meer as 135 000 bevestigde gevalle van Covid-19, met meer as 13 000 sterftes.

Italië het Sondag die minste daaglikse sterfgevalle in sowat twee weke aangemeld. Altesaam 15 887 pasiënte het reeds in dié land omgekom.

Deborah Birx, een van pres. Donald Trump se raadgewers, het gesê die situasie in Spanje en Italië bied die VSA hoop. Dié land is tans die episentrum van die virus met 337 274 bevestigde gevalle van Covid-19. Meer as 9 000 mense in die VSA het reeds weens die virus omgekom.

Afrika

Op die Afrika-vasteland is 1 900 mense reeds in Zimbabwe in hegtenis geneem nadat hulle na bewering nie gehoor gegee het aan dié land se regulasies gedurende die algehele afsondering nie. Byna al die oortreders is stewige boetes opgehef.

Paul Nyathia, woordvoerder van die polisie in Zimbabwe, het gesê die inhegtenisnemings sluit in 22 mense wat Sondag vasgetrek is vir drankverwante oortredings, 14 wat sonder toestemming passasiers vervoer het en 47 wat ondernemings sonder toestemming bedryf het.

Altesaam 106 mense is in hegtenis geneem omdat hulle glo vrylik rondbeweeg het gedurende die tydperk van afsondering.

Nege bevestigde gevalle van Covid-19 is in dié stadium in Zimbabwe aangemeld. Een pasiënt het reeds in dié land weens die virus omgekom.

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Armand Hough, ANA)

In Ethiopië gaan nog 1 558 gevangenes vrygelaat word in ’n poging om die verspreiding van Covid-19 in die land hok te slaan. Dít volg kort nadat 1 000 gevangenes reeds in die Benishangul Gumuz-streek vrygelaat is.

Regeringsamptenare het gesê die gevangenes word vrygelaat om te verhoed dat gevangenisse oorbevolk raak tydens die Covid-19-pandemie. Die regering in Ethiopië het verlede week gesê meer as 4 011 sal vrygelaat word. Hulle dien tronkstraf uit vir niegewelddadige oortredings. Ma’s met babas word ook vrygelaat.

Ethiopië het reeds 44 bevestigde gevalle Covid-19. Twee mense het al in die land omgekom weens die virus.

Bronne: Aljazeera, BBC, Worldometer, ANA

Wil jy op die hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Michelle ·

Dit is so jammer van die arme pragtige diere ek hoop en bid net dat hulle nie uitgewis sal word nie. Dit is nie hulle skuld dat hul die siekte opgedoen het nie ons as mens moet hulle beskerm God verwag dit van ons.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.