Deurbraak in transitorooftog van R40 miljoen

Argieffoto (Foto: moerschy/Pixabay)

Die polisie in Frankryk, wat ʼn gewapende roof van meer as €2 miljoen (byna R40 miljoen) uit ʼn transitovoertuig in Duitsland ondersoek, het nog agt mense in hegtenis geneem, het bronne naby aan die ondersoek Woensdag gesê.

Die agt is deur die loop van Dinsdag en Woensdag aangekeer en sluit die vermeende baasbrein van die operasie, slegs geïdentifiseer as Gemal D. (58), in. Bronne sê die polisie is vertroud met Gemal D.

ʼn Span van vyf of meer swaar gewapende mense het vroeg in Januarie springstof gebruik om ʼn gewapende transitovoertuig in Sarrelouis in Duitsland, naby aan die grens met Frankryk, aan te val. Een van die transitowagte en ʼn polisieman is in die aanval beseer.

Die rowers het in verskeie voertuie van die toneel gevlug en skote op die Duitse polisie gevuur tydens ʼn jaagtog.

Gemal D. en drie ander is in die suidwestelike streek van Pyrenees-Orientales aangekeer en die ander in die noorde van Frankryk en Parys. Almal is deur teenbende-ondersoekbeamptes ondervra.

Een bron sê almal wat met die rooftog verbind word, is nou in hegtenis.

Tien ander verdagtes is reeds vir hul aandeel in die rooftog aangekeer.

Binne ure ná die aanval is vyf verdagtes naby Parys in hegtenis geneem, insluitend twee berugte figure in die Franse bendewêreld, het ʼn bron gesê. Abdelkrim Lho (56) en Loic Deliere (45) het albei skuldigbevindings vir ʼn aanval op ʼn transitovoertuig in 2000 waartydens ʼn veiligheidswag dood is.

Vyf ander, insluitend ʼn vrou, is later in Januarie en in Februarie in hegtenis geneem.

Die rowers het €2,1 miljoen gebuit, aldus ʼn beraming deur die Duitse polisie. Altesaam €860 000 (byna R17 miljoen) is reeds tydens die eerste golf inhegtenisnemings teruggevind. Die res van die geld word nog vermis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Aai ·

Hulle was gearresteer omdat hulle nie opleiding hier gekry het.

Aggie ·

Nou wonder ek hoekom dit nuus is in Suid-Afrika ? Ons het mos oorgenoeg sulke tipe berigte omtrent elke dag !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.