Die Nobelprys vir Vrede gaan aan…

Die Wêreldvoedselprogram waarsku dat ‘n gebrek aan geld sy bedrywighede tot stilstand kan dwing. (Foto: WFP)

Vanjaar se Nobelprys vir Vrede is Vrydag aan die Verenigde Nasies se Wêreldvoedselprogram (WVP) toegeken.

Die Noorse Nobelkomitee het gesê die WVP word vereer “vir sy pogings om hongerte te bekamp, ​​vir sy bydrae tot die verbetering van die toestande vir vrede in konflikgeteisterde gebiede en as ’n dryfveer in pogings om die gebruik van hongerte as ’n wapen van oorlog en konflik te voorkom.”

Die WVP is in 1961 op die been gebring en voorsien nou byna 60 jaar later kos aan meer as 90 miljoen behoeftige mense per jaar.

Berit Reiss-Andersen, voorsitter van die Noorse Nobelkomitee, het gedurende die aankondiging na die impak van die Covid-19-pandemie op die wêreldwye voedselvoorraad verwys.

Argieffoto ter illustrasie (Foto: ANA)

“Die koronavirus-pandemie het bygedra tot ’n sterk oplewing in die aantal slagoffers van hongerte in die wêreld. Die WVP het in die lig van die pandemie ’n indrukwekkende vermoë getoon om sy pogings te versterk.

“Soos die organisasie self vantevore gesê het: Tot die dag dat ons ’n entstof het, is voedsel die beste inenting teen chaos,’ het Reiss-Andersen gesê.

Die WVP het intussen sy personeel geprys nadat hulle die Nobelprys vir Vrede gewen het.

“Dit is ’n erkenning vir die werk van WVP-personeel wat elke dag hul lewens op die spel plaas om kos en hulp aan meer as 100 miljoen honger kinders, vroue en mans reg oor die wêreld te bring.”

Tedros Adhanom Ghebreyesus, direkteur-generaal van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), het op sy beurt die Nobelkomitee se 2020-wenner verwelkom.

“Groot bewondering en respek vir die lewensreddende werk wat u vir mense in nood oral doen,” het Ghebreyesus getwiet.

Die WVP is die 101ste wenner van die gesogte Nobelprys vir Vrede.

Sowat 211 individue en 107 organisasies is vanjaar vir die prys benoem waaronder die WGO en Greta Thunberg, die Sweedse omgewingsaktivis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Therese ·

Wat ‘n klug!
Honger mense word konstant elke jaar gevoed deur die WFP. (goeie werk)
Die eintlike oorweging agter hierdie flou windeier is omdat die komitee nie kans gesien het om die president van die VSA te vereer vir die uitstekende vordering met vrede in die Midde-Ooste, en om Noord-Korea se aggressie te temper nie.
Barack Obama het skaars president geword in 2009 toe hy die prys kry vir “extraordinary efforts to strengthen international diplomacy and cooperation between people”. “Efforts”?

Eugene ·

Stem 100% saam met jou. Trump het dit deur en deur verdien.

christo ·

Daar is behoefte aan nog ‘n Nobelprys: Die Nobelprys vir korrupsie. Die ANC gaan oor hulle voete val vir dié prys.

Dirk Mostert ·

Die WVP-amptenare word betaal om hul werk te doen. Hierdie toekenning is dus onvanpas. Maar Greta Thunberg en die WGO ? Nobel sal in sy graf omdraai.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.