Die wêreld in foto’s – 5 Februarie 2020

Foto’s bied ʼn blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ʼn slag.

Indonesiërs wat uit Wuhan, China, arriveer, word met antiseptiese middels gespuit op die Hang Nadim-lughawe in Batam, Indonesië. (Foto: Indonesiese ministerie van Buitelandse Sake, AP)

ʼn Duiker lê bo-op die duikboot Limiting Factor in die Middellandse See. ʼn Span wetenskaplikes van die Brits-geleide Nekton-sending berei hulle voor om in die dieptes van die Indiese Oseaan te duik waar lig skaars sigbaar is, maar lewe steeds floreer. Hulle beplan om die natuurlewe te ondersoek en die gevolge van klimaatsverandering in die onontginde gebied te bepaal. (Foto: Nekton, AP)

Tientalle winkels in die luukse winkelsentrum Montenapoleone in Milaan, Italië, het hul vensters versier vir die Chinese Nuwejaar. Weens die uitbreek van die koronavirus het welgestelde Chinese kopers, wat sorg vir ongeveer ʼn derde van die wêreld se aankope van luukse artikels, nie soos gewoonlik in groot getalle opgedaag nie. (Foto: Luca Bruno, AP)

Veiligheidsbeamptes in Pakistan lig Hussain Imam, hoof van die veiligheidspan in Bangladesj, in oor die veiligheidsmaatreëls vir die eerste kriekettoets tussen Pakistan en Bangladesj. (Foto: Anjum Naveed, AP)

Turkse nooddienste grawe om drie omgeslaande voertuie in die sneeu naby Bahcesehir in die ooste van Turkye. Tientalle reddingswerkers word vermis nadat hulle deur ʼn tweede sneeustorting getref is tydens ʼn sending om twee mense te vind wat in ʼn vorige sneeustorting vermis geraak het. (Foto: DHA, AP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.