Die wêreld in foto’s – 9 Julie 2018

Foto’s bied ʼn blik op die wêreld wat nie noodwendig in woorde beskryf kan word nie. Beleef al die nuusgebeure, een foto op ʼn slag.

Entoesiaste hardloop saam met bulle van die Cebada Gago-plaas op die derde dag van dié jaarlikse bulwedloop op die San Fermin-fees in Pamplona in Noord-Spanje. Feesgangers van reg oor die wêreld stroom elke jaar na Pamplona waar waaghalsiges agt dae lank die geleentheid kry om aan die bulwedloop en stiergevegte deel te neem. (Foto: Alvaro Barrientos, AP)

ʼn Besorgde Thaise man sit Maandag ʼn plakkaat op ter ondersteuning van die seuns en hul sokkerafrigter wat sedert 23 Junie in ʼn grot in die Chiang Rai-provinsie in die noorde van Thailand vasgekeer is. Ervare duikers kon daarin slaag om reeds etlike van die 12 seuns uit die grot in Noord-Thailand te red te midde van swaar reën en die dreiging van stygende watervlakke. Die plakkaat lees: “Bring die Wild Boars huis toe.” (Foto: Sakchai Lalit, AP)

ʼn Konvooi van swart, elektriese Londense taxi’s ry, met die Londen Eye in die agtergrond, oor die Westminster-brug om die mylpaal van 350 van dié soort voertuie op Londen se paaie te vier. Die Londense elektriese voertuigmaatskappy sê daar word verwag dat dié 350 taxi’s jaarliks sowat 10,7 miljoen myl (17,2 miljoen km) sal aflê wat hul eienaars sowat 1,8 miljoen pond (sowat R32 miljoen) in brandstofkoste sal spaar en die koolstofdioksied-besoedeling van die taxi-sektor met sowat 2 450 ton sal verminder. (Foto: Matt Alexander, AP)

Op ʼn warm en sonnige dag weerkaats die fasade van die Ou Operahuis in Frankfurt, Duitsland, Maandag in ʼn waterpoel. (Foto: Michael Probst, AP)

Die Duitse kanselier, Angela Merkel (links), verwelkom die Chinese premier, Li Keqiang, voor ʼn vergadering in die kanseliersgebou in Berlyn. (Foto: Markus Schreiber, AP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.