Dodelike brand by skoolkoshuis ‘dalk kwaadwillig gestig’

(Foto: Keno GEORGE / AFP)

Die verwoestende brand wat Sondagaand by ʼn meisieskoshuis in Guyana uitgebreek en die lewe van 19 kinders geëis het, is moontlik “kwaadwillig” gestig.

Clifton Hicken, polisiekommissaris van Guyana, het Maandag tydens ʼn nuuskonferensie gesê ʼn voorlopige ondersoek dui daarop dat die brand opsetlik gestig is.

“Ons ondersoek duur voort.”

Nog geen verdagtes is egter in dié stadium geïdentifiseer nie. Hicken het egter gesê hy verwag om binne die volgende 48 uur meer inligting te bekom.

Die Mahdia Sekondêre Skool in sentraal-Guyana se meisieskoshuis het ten tyde van die brand leerders tussen 11-12 en 16-17 jaar oud gehuisves.

Daar was 63 leerders in die gebou toe die brand uitgebreek het.

Altesaam 14 kinders is op die toneel dood en vyf het by die Mahdia-distrikshospitaal gesterf.

Twee kinders is in dié stadium in ʼn kritieke toestand in die hospitaal. Vier ander word vir ernstige beserings behandel.

Hicken het gesê lykskouings is reeds op die liggame van minstens ses slagoffers uitgevoer, en almal van hulle sal DNS-toetse ondergaan.

Woede

Sowat 50 familielede en vriende van die slagoffers het Maandag na Chenapau opgeruk, ʼn dorpie naby Mahdia wat die tuiste van baie van die skool se leerders is.

“Die blote pyn, die trauma,” het Michael McGarrell, wat twee familielede in die brand verloor het, telefonies aan AFP gesê. “Wie sal verantwoordelik gehou word?”

Naasbestaandes is woedend aangesien die koshuis se vensters diefwering gehad het.

“Hoekom word skoolkinders as’t ware in doodslokvalle toegesluit? Wat gaan ons vir die ouers sê?” sê McGarrell, ʼn aktivis van die Amerindian People’s Association (APA) wat dikwels ʼn stryd voer met die regering oor grondregte.

Brandbestryders kon Sondag daarin slaag om sowat 20 leerders te red nadat hulle gate in die noordoostelike muur van die koshuis gebreek het.

Natasha Singh-Lewis, ʼn LP vir die opposisie, het versoek dat ʼn ondersoek na die oorsaak van die brand van stapel gestuur word.

“Ons moet verstaan hoe só ʼn verskriklike en dodelike voorval gebeur het en alle nodige stappe doen om seker te maak só iets gebeur nie weer nie.”

Guyana is ʼn klein Engelssprekende land van sowat 800 000 mense. Dit is ʼn voormalige Nederlandse en Britse kolonie wat onlangs ontdek het dit beskik oor die wêreld se grootste per capita oliereserwes. Dit is een van die armste lande in Suid-Amerika en hoop dat dié ontdekking tot vinnige ontwikkeling sal lei. Die land het die naashoogste persentasie woudbedekking ter wêreld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.