Dodelike brand woed op vragskip aan Nederlandse kus

Die brand het in die vroeë oggendure aan boord van ʼn skip aan die kus van Nederland uitgebreek. (Foto: Flying Focus/ANP/AFP)

Brandbestryders het Woensdag nog gespook om ʼn brand wat in die vroeë oggendure aan boord van ʼn skip aan die kus van Nederland uitgebreek het, te blus.

Bemanningslede het aanvanklik self onsuksesvol probeer om die brand te blus. Een bemanningslid is dood en verskeie ander beseer.

Reddingswerkers het kort ná middernag ʼn oproep ontvang dat ʼn brand aan boord van die vragskip Fremantle Highway uitgebreek het.

Die skip vervoer sowat 3 000 voertuie, waaronder elektriese voertuie, en was sowat 27 km noord van die Nederlandse eiland Ameland toe die brand uitgebreek het. Die skip was onderweg na Egipte.

Die Nederlandse kuswag het bevestig dat “al 23 bemanningslede van die skip na veiligheid geneem is”.

Minstens sewe van die bemanningslede het by die brandende skip afgespring en is uit die water gered, terwyl die res met ʼn helikopter opgepik is.

Die beseerde bemanningslede is na die dorpe Lauwersoog en Eelde geneem vir mediese behandeling.

“Hulle het almal asemhalingsprobleme ondervind, maar nie een is in lewensgevaar nie,” het ʼn veiligheidsbeampte van die Drenthe-streek aan AFP gesê.

Volgens die kuswag het die brand teen laat Woensdagoggend steeds gewoed.

Omgewingsrisiko

Die brandende skip is naby Ameland, een van vier ekologies-sensitiewe Friese Eilande wat in die Waddensee-gebied net noord van Nederland geleë is.

Die gebied is tot ʼn Unesco-wêrelderfenisgebied verklaar en het meer as 10 000 water- en landspesies.

Dit sluit meer as 140 visspesies in, waarvan sowat 20 in die getygebiede langs die eilande se bekende moddervlakte woon.

Die gebied het ook ʼn groot rob- en bruinvisbevolking.

De Telegraaf berig dat sou die skip sink, dit ʼn “ramp van die hoogste orde” sou wees.

Gespesialiseerde brandbestryders sou uit Rotterdam kom om per helikopter na die skip te gaan, maar die brand het so vinnig versprei dat dit nie meer veilig was om hulle op die skip af te laai nie.

ʼn Sleepboot het intussen ʼn kabel aan die brandende skip vasgemaak om te verhoed dat dit wegdryf en ʼn belangrike skeepvaartroete na Duitsland versper, het die Nederlandse Omroep Stichting (NOS), Nederland se nasionale uitsaaier, gesê.

“Ons neem alle scenario’s in ag,” het ʼn kuswagbeampte aan die NOS gesê.

Die moontlike oorsaak van die brand was ʼn elektriese voertuig, een van sowat 25 aan boord, het die amptenaar gesê.

Owerhede stel ondersoek in na die oorsaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.