Dodetal in Israel-Gaza-konflik styg steeds

Gepantserde troepedraers van die Israelse weermag naby die Gaza-grens. (Foto: Aris Mesinis/AFP)

Israelse magte het Maandag intense aanvalle op Palestynse militante in Gaza volgehou met die konflik wat nou al byna ʼn maand lank voortduur en met die Hamas-beheerde departement van gesondheid wat aanvoer die dodetal in die beleërde gebied het nou al tot meer as 10 000 gestyg.

Vasbeslote om Hamas te vernietig ná ʼn aanval op 7 Oktober die lewe van 1 400 mense in Israel geëis het – en meer as 240 mense as gyselaar geneem is – het eerste minister Benjamin Netanyahu volgehou dat geen einde in sig is nie, ondanks internasionale oproepe vir ʼn skietstilstand.

Grondmagte het reeds die noordelike helfte van die Gaza-strook ingeval en die net om Gazastad span al stywer. Duisende mense is steeds in die gebied, ten spyte van Israelse bevele dat hulle die gebied moet verlaat.

Gaza se Hamas-beheerde departement van gesondheid het Maandag gesê meer as 200 mense is oornag in aanvalle dood; dit kom ʼn dag nadat ʼn dodetal van meer as 9 770, volgens die departement meestal vroue en kinders, aangemeld is.

Die VSA, ʼn bondgenoot van Israel, het sy topdiplomaat, Anthony Blinken, op ʼn blitstoer na die Midde-Ooste gestuur. Die besoek is gekenmerk deur skerp veroordeling van Israel – ook tydens sy laaste stop in Turkye.

Die hoofde van verskeie agentskappe van die Verenigde Nasies (VN) het in ʼn gesamentlike verklaring gevra vir ʼn skietstilstand in die gebied met sy 2,4 miljoen inwoners waar Israel nou grootliks ook die lewering van water, voedsel en brandstof opgeskort het.

“Byna ʼn maand lank kyk die wêreld in skok en afgryse na die ontvouende situasie in Israel en die besette Palestynse grondgebied en die stygende getal lewens wat verlore gaan of uitmekaar geruk word,” lui die verklaring wat Sondag uitgestuur is.

“Ons benodig ʼn onmiddellike humanitêre skietstilstand. Dit is nou 30 dae. Genoeg is genoeg. Hierdie moet nou end kry.”

Israel se weermag het Maandag gesê hy het Gaza met “beduidende” nuwe aanvalle geteiken, nadat hy vroeër gesê het die weermag het reeds 12 000 teikens getref.

“Ons sal die geveg na Hamas neem, waar hulle ook al is; ondergronds of op die grond,” het Jonathan Conricus, woordvoerder van die Israelse weermag, gesê. Hy het ook oproepe herhaal dat burgerlikes die stedelike oorlogsone verlaat.

“Ons gaan Hamas ontbind, vesting ná vesting, bataljon ná bataljon tot ons die grootste doelwit bereik: Om in die Gaza-strook, die ganse Gaza-strook, van Hamas ontslae te raak.”

Die Hamas-beheerde departement van gesondheid het Sondag aangevoer 45 mense is dood in Israelse aanvalle op ʼn vlugtelingkamp in sentraal-Gaza. Volgens die departement het oorlewendes deur die puin na oorlewendes gesoek.

“Hulle het ʼn ganse straat sonder kennisgewing op die koppe van vroue en kinders laat neerstort,” voer die departement aan.

Israelse magte en Hamas-vegters is betrokke in huis-tot-huis-gevegte in die dig bevolkte Gaza waar die oorlog reeds 1,5 miljoen mense na ander gebiede laat vlug het.

Netanyahu hou by sy stelling dat “daar geen skietstilstand sal wees tot die gyselaars bevry word nie”.

Kort voor die jongste vlaag aanvalle, is internet- en telefoonlyne gesny, sê die weermag.

Israel het ook pamflette versprei en selfoonboodskappe gestuur waarin Palestynse burgerlikes in die noorde van Gaza opdrag gegee word om suid te vertrek. ʼn Amerikaanse amptenaar het Saterdag egter gesê minstens 350 000 burgerlikes is nog in die gebiede wat die swaarste getref is.

Cornicus het Hamas daarvan beskuldig dat hy tonnels onder skole, hospitale en plekke van aanbidding bou om vegters te versteek, aanvalle te beplan en ammunisie te stoor. Dit is ʼn beskuldiging wat die militantegroep ontken.

Blinken in Turkye

‘n Man maak tee tussen sy karige besittings in Rafah, in die suide van die Gaza-strook, te midde van voortgesette konflik in die gebied. (Foto: Mohammed Abed/AFP)

Blinken se streekstoer het hom van die Wesoewer tot in Ciprus en Irak geneem waar hy gevra het vir “humanitêre onderbrekings” terwyl hy Arabiese lande se oproepe om ʼn skietstilstand verwerp het.

Hy het sy Turkse eweknie, Hakan Fidan, Maandag in Ankara ontmoet.

Voor Blinken se aankoms het Turkye, ʼn lid van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie – beter bekend as Nato – traanrook en waterkanonne gebruik om honderde betogers uiteen te jaag wat opgeruk het na ʼn lugmagbasis vir Amerikaanse magte in Turkye se suidooste. Turkye is ʼn bondgenoot van Palestina, maar het ook bande met Israel.

Die Turkse president, Recep Tayyip Erdogan, was Maandag in die land se verre noordooste, klaarblyklik as ʼn afjak van Blinken.

Turkye het reeds gesê hy herroep sy ambassadeur na Israel en verbreek alle bande met Netanyahu.

Tydens ʼn ontmoeting met Blinken op die Wesoewer Sondag, het die president van die Palestynse Owerheid, Mahmud Abbas, die “volksmoord en verwoesting” aan die “hand van Israel se oorlogsmasjien” ten sterkte veroordeel.

In Iran, aartsvyand van Israel en die VSA, het pres. Ebrahim Raisi Maandag beweer die Amerikaanse president, Joe Biden, se administrasie moedig Israel aan om Palestynse dood te maak en wrede dade teenoor hulle te pleeg.

Grenspos gesluit

‘n Palestynse smous ry lemoene op sy donkiekar aan in Rafah, in die suide van die Gaza-strook te midde van voortgesette konflik in die gebied. (Foto: Said Khatib/AFP)

Intussen was die enigste grenspos deur Egipte na Gaza Sondag vir ʼn tweede dag gesluit.

Hamas het die verskuiwing van diegene met buitelandse paspoorte opgeskort nadat die groep aangevoer het Israel het geweier om toe te laat dat sommige gewonde Palestynse vegters geskuif mag word.

Die VN-kantoor vir die Koördinering van Humanitêre Sake het die sluiting bevestig en gesê meer as 1 100 mense is die vorige twee dae toegelaat om deur die grenspos te reis.

Die oorlog het spanning in die Wesoewer vererger waar meer as 150 Palestyne aldus die Palestynse departement dood is in gevegte met Israelse magte sedert die konflik begin het.

In die Israel-geannekseerde ooste van Jerusalem, is ʼn vroulik Israelse soldaat Maandag ernstig beseer in ʼn mes-aanval voor “grenspolisiemagte die terroris geneutraliseer het” deur te vuur.

Die Israelse weermag het Maandag ook gesê hy het die Palestynse aktivis Ahed Tamimi (22) in ʼn klopjag in die dorp Nabi Salih, in die Wesoewer, in hegtenis geneem. Sy word beskuldig van “aanhitsing tot geweld en terreurbedrywighede”.

Tamimi het op 14-jarige ouderdom al bekend geword toe sy afgeneem is waar sy ʼn Israelse soldaat byt om hom te keer om haar jonger broer in hegtenis te neem, en ook omdat sy later ʼn Israelse soldaat ʼn klap gegee het. ʼn Groot skildery van haar is op die Israelse skeidingsmuur in die Wesoewer aangebring.

By navraag oor die rede vir haar inhegtenisneming het ʼn veiligheidsbron ʼn Instagram-plasing aan AFP gestuur. Dit is wyd op sosiale media versprei en word aan die jong aktivis toegedig. Luidens die plasing, wat in Arabies en Hebreeus geskryf is, het sy gevra vir die slagting van Israeli’s in uiters eksplisiete terme en ook met verwysing na die destydse Duitse leier Adolf Hitler.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Manie ·

Korrek, en nou skuil hulle tussen weerlose vroue en kinders en skreeu blou moord.

Anel ·

Net so. Die burgerlikes is mos gewaarsku om te ontruim. As hulle dit sou doen kon Israel al lankal van die terroriste ontslae geraak het en kon die mense na hul huise tetug gekeer het. Maar nou ja!!!

Jacobus ·

Vra ek ook wie het Israel eerste binne geval? Hulle moenie nou huil nie.

Jakes ·

Die Palestyne kan die oorlog stop as hulle Hamas land uit jaag. Hamas is n terreur groep en moet boet vir hulle dade.

Ben ·

Wat vir my sooo snaaks is. Niemand sê of veroordeel die slagting van 1400 onskuldige mense in Israel nie.
Is dit dan nou maar ok????

Jan Jacobs ·

Kyk na cbn se video waar n idf majoor, n gedeelte van n “hamas” vuurpyl vas hou, wat eintlik n 155mm tank projektiel is so ek wonder maar net

Net-my-opinie ·

Nou maar toe, laat Hamas en Hezbollah ophou om missiele te bly afvuur na Israel, dis nie te moeilik nie, is dit?

Cherokee ·

En daardie militêre vuis, is vanuit ‘n landjie wat kleiner is as die Kruger Wildtuin. Verstommend!

Jasper ·

Daar kom ‘n punt waar die kanker uitgeroei moet word. As jy iets oor laat, groei dit maar net weer.

annie ·

Hamas vertel die grootste twak, maar die VN en ander moslem-goedgesindes glo dit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.