Dodetal styg ná hoofweg in China meegee

(Foto: X)

Die dodetal het tot 36 gestyg nadat ʼn snelweg in die suide van China se Guangdong-provinsie weens swaar reën in duie gestort het.

Die staatsnuusagentskap Xinhua berig ʼn stuk pad tussen die stad Meizhou en die Dabu-distrik het Dinsdag omstreeks 20:10 (plaaslike tyd) meegegee.

ʼn Stuk van 18 m van die pad het meegegee, voertuie het in die afgrond afgestort en insittendes is vasgekeer.

Guangdong, ʼn digbevolkte nywerheidsentrum, is die afgelope paar weke deur ʼn reeks rampe getref wat aan uiterste weersomstandighede toegeskryf word. Storms wat baie swaarder was as wat hierdie tyd van die jaar ervaar word, het voorgekom.

Xinhua berig nog 12 mense is in die voorval dood, wat die sterftesyfer op 36 te staan bering. Sowat 30 mense het minder ernstige beserings opgedoen.

Beeldmateriaal deur die staatsuitsaaier CCTV wys hoe talle motorwrakke in ʼn diep modderige put lê waar die snelweg vroeër was.

Staatsmedia het die voorval as ʼn “natuurlike geologiese ramp” beskryf wat veroorsaak is deur die “uitwerking van aanhoudende swaar reën”.

Pres. Xi Jinping, die Chinese staatshoof, het amptenare aangesê om alles moontlik op die ongelukstoneel te doen en te verseker risikobestuur word tydelik en behoorlik gedoen.

Ongeveer 500 mense is by die reddingsoperasie betrokke.

Luidens berigte het die provinsiale regering “gespesialiseerde elite-magte gemobiliseer en alles gedoen om ʼn soek-en-reddingsoperasie uit te voer”.

ʼn Amptelike kennisgewing het motoriste Woensdag na ander paaie herlei.

Dele van sentrale en oostelike Guangdong het die afgelope tien dae soveel as 600 mm reën gekry, drie keer meer as gewoonlik hierdie tyd van die jaar, het die nasionale weerkantoor Donderdag gesê.

Soveel as 120 mm reën is Donderdag vir die provinsie se suidwestelike gebiede voorspel, saam met verdere reënbuie oor suidelike China.

Die toestande “verhoog die risiko van rampe, veral geologiese rampe”, het die weerkantoor gesê.

Die departement van noodbestuur het ook gewaarsku dat aanhoudende reën tot nog sulke rampe kan lei en amptenare het mense gemaan om reise met oorleg te beplan.

Stortreën het verlede maand oorstromings in Guangdong veroorsaak wat die lewe van vier mense geëis het en die verskuiwing van meer as 100 000 mense tot gevolg gehad het.

Verlede week het ʼn tornado tot die dood van vyf mense in Guangzhou gelei.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Lyk eerder na swak ontwerp en konstruksiewerk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.