Duisende vlug voor tifoon in Filippyne

‘n Kind speel tussen ontwortelde bome langs die Filippynse kus.(Foto: Bobbie Alota / AFP)

Duisende mense in die Filippyne moes hul huise en vakansieoorde ontruim nadat ʼn super-tifoon die land Donderdag getref het.

Tifoon Rai is die sterkste storm om dié land vanjaar te tref. Teen Donderdag het wind van amper 200 km/h verwoesting begin saai.

Volgens dié land se nasionale rampbestuur het meer as 98 000 mense noodskuiling gesoek terwyl die storm in die Stille Oseaan-gebied gewoed het.

Die tifoon het darem effens verswak namate dit oor die land begin beweeg het, maar steeds kommunikasie- en kragonderbrekings in sommige gebiede veroorsaak. Swaar reën het ook oor die land uitgesak. Soveel as 13 miljoen mense is deur die storm geraak.

Talle mense is ook deur oorstromings in hul huise vasgekeer. Onder dié wat uit die oorstroomde gebiede gered moes word, is ʼn maand oue baba. ʼn Video op BBC wys hoe beamptes van die Filippynse kuswag deur borshoogte water met die kleinding in ʼn skottel beweeg. Een van die wagte hou ʼn sambreel oor die skottel terwyl die reën in vlae om hulle uitsak.

Plaaslike toeriste moes ook uit vakansieoorde langs die kus verwyder word. Die land is steeds gesluit vir buitelandse toeriste weens die Covid-19 pandemie. ʼn Sportfasiliteit op die dorp Data is in ʼn tydelike noodskuiling omskep.

Niemand is tot dusver dood of beseer nie.

In 2013 het die super-tifoon Haiyan, die dodelikste nóg om die Filippyne te tref, meer as 7 300 mense dood of vermis gelaat.

Bykomende bronne: BBC, AFP

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.