Duitsland het die mees senior beampte van die CIA in die Bondsrepubliek, die land uitgesit.
Dit volg nadat Duitsland twee spioene van die VSA betrap het. Hulle het onder meer op die parlementskomitee gespioeneer wat juis ondersoek ingestel het na die spioenasie van die Amerikaanse NSA in Duitsland. Die verhoudinge tussen die VSA en Duitsland het aansienlik afgekoel na dit aan die lig gekom het dat die NSA onder meer op bondskanselier Angela Merkel se selfoon meegeluister het. Merkel het dit as vertrouensbreuk beskryf.
Pres. Barack Obama kry egter nie net teenspoed van sy bondgenote nie. Tuis beleef hy ‘n swak periode op gewildheidspeilings, terwyl 44 persent van die kiesers meen dat Obama minder lojaal aan die grondwet is as ander Amerikaanse presidente.
Bronne: Trouw, Business Insider