Eerste pienkvoet op pad vir ‘Twilight’-akteur en sanger

Robert Pattinson en Suki Waterhouse verwag hul eerste baba saam. (Foto: Alberto E. Rodriguez/ AFP)

Die Twilight-akteur Robert Pattinson (37) en die aktrise, model en sangeres, Suki Waterhouse (31) verwag eersdaags hul eerste pienkvoet.

Waterhouse, wat onlangs in die Amazon Prime Video-trefferreeks, Daisy Jones and the Six, te sien was, het dié nuus tydens ʼn onlangse optrede by ʼn musiekfees in Meksiko gedeel.

In ʼn video wat deur aanhangers op X (voorheen Twitter) geplaas is, het Waterhouse – geklee in ʼn glinsterende, pienk minirok en pelsjas op die verhoog gesê: “Ek het ekstra sprankel vandag gedra, want ek het gedink dit julle aandag kan aflei van iets anders wat aan die gang is.”

Daarna het die sanger haar jas oopgemaak om haar blink bababoepie vir die skare te wys.

“Ek is wel nie seker of dit werk nie,” het sy skertsend bygevoeg voordat sy met haar musiekuitvoering begin het.

Dié bekende Britse vermaaklikheidskunstenaars is sedert 2018 in ʼn verhouding.

Waterhouse was voorheen in ʼn verhouding met die A Star is Born-akteur, Bradley Cooper, terwyl Pattinson verloof was aan die kletsrymer, FKA Twigs, wie se regte naam Tahliah Debrett Barnett is.

Hoewel die paartjie min saam op die rooitapyt te sien is, het hulle mekaar in Meimaand vanjaar na die eksklusiewe Met Gala-geleentheid in New York vergesel.

Dit is beide se eerste kind.

Bronne: People, E! News.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.