Eerste Wednesday Addams-aktrise (64) sterf

Lisa Loring kort voor haar afsterwe. (Foto: Facebook)

Lisa Loring, bekend vir haar rol as Wednesday Addams in die eerste TV-verwerking van The Addams Family in die 1960’s is in die ouderdom van 64 dood.

Loring se dogter, Vanessa Foumberg, het aan The Hollywood Reporter gesê sy het ʼn beroerte gehad wat deur hoë bloeddruk veroorsaak is.

“Sy het vreedsaam heengegaan met albei haar dogters wat haar hande vasgehou het,” het Foumberg gesê.

Die aktrise was voor haar afsterwe vir drie dae aan lewensondersteunende masjiene gekoppel, het haar vriendin Laurie Jacobson op Facebook gesê.

“Sy is ingebed in die tapisserie van popkultuur en altyd in ons harte as Wednesday Addams,” het sy in die plasing gesê.

Lisa Loring (voor) as vyfjarige dogtertjie in die rol van Wednesday Addams. (Foto: Facebook)

The Addams Family was die eerste verwerking van Charles Addams se New Yorker-strokiesprent, en is van 1964 tot 1966 op ABC uitgesaai.

Loring het ook in die sepie As The World Turns en die sitkom The Pruitts of Southampton verskyn.

Sy is gebore Lisa Ann DeCinces in die Marshall-eilandgroep en het haar verhoognaam as driejarige begin gebruik toe sy haar modelloopbaan begin het.

Lisa Loring as vyfjarige dogtertjie in die rol van Wednesday Addams. (Foto: Facebook)

Haar werk het latere weergawes van die Wednesday Addams-karakter geïnspireer, soos dié van Christina Ricci in die 1991-fliek The Addams Family asook die opvolgfliek.

Die rol is onlangs deur Jenna Ortega vertolk vir die Netflix-gruwelkomedie Wednesday. Dié reeks is een van Netflix se gewildste reekse van alle tye.

Ortega het in Desember aan Jimmy Fallon op The Tonight Show gesê sy het “eer betoon” aan Lisa Loring deur “ʼn bietjie van die skuifel te doen wat sy gedoen het”.

John Astin, wat Gomez Addams gespeel het, is die laaste oorlewende lid van die oorspronklike The Addams Family-program.

Bykomende bron: BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.