El Niño sal tot minstens April duur – VN

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Manish Upadhyay)

Die El Niño-weerverskynsel, wat tans verantwoordelik is vir hoër temperature wêreldwyd, sal na verwagting tot minstens April volgende jaar voortduur.

Die Verenigde Nasies (VN) se Wêreld‑ Meteorologiese Organisasie het Woensdag gesê die huidige El Niño, wat tussen Julie en Augustus vanjaar vinnig ontwikkel het, sal waarskynlik tussen nou en Januarie ’n hoogtepunt bereik.

“Daar is ’n 90%‑waarskynlikheid dat dit gedurende die Noordelike Halfrond se komende winter en die Suidelike Halfrond se somer sal voortduur,” het die organisasie Woensdag in sy jongste opdatering gesê.

El Niño is ’n weerverskynsel wat tipies geassosieer word met verhoogde temperature wêreldwyd, sowel as droogte in sommige dele van die wêreld en swaar reën elders.

Dié weerverskynsel kom tipies elke twee tot sewe jaar voor, en verhoog gewoonlik temperature wêreldwyd in die jaar nadat dit ontwikkel het.

Die warmste jaar tans op rekord is 2016 – die jaar nadat ’n buitengewoon sterk El Niño ontwikkel het.

Weerkenners sê egter nou die wêreld is op koers om daardie rekord vanjaar te klop.

Petteri Taalas, hoof van die Wêreld‑ Meteorologiese Organisasie, sê 2023 is op koers om die warmste jaar op rekord te wees weens rekordhoë land- en see-oppervlaktemperature sedert Junie.

Taalas het egter gewaarsku dat volgende jaar selfs warmer kan wees.

“Dit is duidelik en onomwonde te wyte aan die bydrae van die toenemende konsentrasies van hittevangende kweekhuisgasse van menslike aktiwiteite,” het Taalas Woensdag verduidelik.

“Ekstreme gebeurtenisse soos hittegolwe, droogtes, veldbrande, swaar reën en vloede sal in sommige streke versterk word.”

Die El Niño-weerverskynsel het voor vanjaar laas in 2018 en 2019 voorgekom, gevolg deur ’n buitengewoon lang La Niña wat vroeër vanjaar geëindig het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Chris ·

Daar is baie slimmer mense as ek. Ek probeer hard om op hoogte van sake te bly en nie te agter te raak wat aangaan nie. Vir alles op dees aarde is daar glo al verklarings, redes en oorsake. Oor een beweging/groep lig ek egter my wantroue in. Die klimaats en weersdoemprofete wat elite of kultus status bereik het. Jy kan oor enige ding in die lewe praat of bespiegel, jy moet net jou bek van die weer af hou (so ook van ‘n sekere spesie van die mens se gemoedstoestand). Die aardbol waarop ons bly is miljuisende jare oud. Wie en wat het al hier gebly? Die natuur is ‘n lewende skepping. Dit gaan deur fases. dit stagneer nie. Dit verander voortdurend. Daar was duisende jare gelede al vloede, hittegolwe, aardbewings en ander verskynsels. Die lot het net nie name daarvoor gehad nie en ook somtyds vergeet om dit op te teken. Ek glo raak rustig en leef in harmonie met die natuur en moenie ‘n morsjors wees nie. (as net dit gedoen word sal dit goed wees)

Danie ·

Ek stem saam. Mense vergeet baie vinnige wat die hoofbron van hitte op die aarde is: Die son. As die son hoes, hoes ons ons hele sonnestelsel saam. Dit is hoe dit geskep is. Pas aan.

Delia ·

Jy slaan die spyker op die kop. Daar is niks nuuts onder die son. Gister se artikel praat van die warmste dag in 25 000 jaar. Wat maak.dit saak????

Danie ·

En dan sneeu dit in Februarie. En dan in hulle verbeelding eindig die wêreld seker dan…
In Maart kyk ons terug en wys almal die foto’s van die sneeumanne wat ons sommer in die straat gebou het…

annie ·

Die weerspeletjie is natuurlik in die VSA ontwerp. En dit is so natuurlik soos Hollywood self. Groot geld! Lekker dag…

Cherokee ·

El Niño is baie vriendelik met Durban asook groter dele van KZN, want juis nou is dit heelwat koeler as ander jare hierdie tyd.

Truman Burbank ·

As mens nou hou van die weer, moenie worry. Netnou verander dit

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.