Foto’s: Amphan laat spoor van verwoesting agter

Die Indiese stad Kolkata ná supersikloon Amphan. (Foto: ANI Photo)

Minstens 15 mense is dood nadat supersikloon Amphan Woensdagaand Indië en Bangladesj getref het.

Talle inwoners in die Indiese stad Kolkata is sedertdien sonder elektrisiteit. Verkeersligte, bome en lamppale in dié stad met sowat 14 miljoen inwoners is deur die storm omgewaai.

BBC berig Mamata Banerjee, hoofminister van die Indiese deelstaat Wes-Bengale, het die spoor van verwoesting wat deur sikloon Amphan in dié staat agtergelaat is, bestempel as “ʼn groter ramp as Covid-19”.

Kolkata is die hoofstad van Wes-Bengale en het reeds 3 103 bevestigde gevalle van die nuwe koronavirus aangemeld.

“Die een gebied na die ander is verwoes. Dit is iets soos ʼn oorlogsituasie,” het Banerjee gesê.

Die stad se Netaji Subhas Chandra Bose-lughawe het veral sleg deurgeloop. Die lughawe was voor die Covid-pandemie een van die besigste lughawens in Indië.

Groot skade is ook in Bangladesj aangerig.

Die Indiese stad Kolkata ná supersikloon Amphan. (Foto: ANI Photo)

CNN berig Ranjit Kumar Sen, ʼn amptenaar van dié land se ministerie van rampbestuur en verligting, het gesê byna elke kusgebied in dié land het deurgeloop onder sikloon Amphan.

Baie damme wat nie onderhou is nie het te midde van die storm meegegee wat hewige oorstromings in Bangladesj tot gevolg gehad het.

Groot skade is gelukkig nié by Cox’s Bazar, die grootste vlugtelingkamp ter wêreld, aangerig soos aanvanklik verwag is nie. Dié vlugtelingkamp huisves bykans een miljoen Rohingya-vlugtelinge.

Volgens Sen het Bangladesj nog nie ʼn amptelike dodetal bekend gemaak nie aangesien die owerhede in dié stadium nog inligting inwin.

Amphan is die eerste supersikloon sedert 1999 wat in die Golf van Bengale ontstaan het. Hoewel die windsterkte intussen afgeneem het, ​​ word die sikloon steeds as ‘ʼn baie ernstige sikloon” geklassifiseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.