Foto’s: Torings, paleise van ys verstom

(Foto: STR / AFP)

Besoekers aan China se jaarlike ysfees word vanjaar begroet deur bevrore doolhowe, verligte torings van ys en kristalpaleise uit groot ysblokke gekerf.

Die fees, wat deur die jare reeds miljoene besoekers gelok het, het Dinsdag weer in die Chinese stad Harbin in die noordooste van die land afgeskop ten spyte van klein Covid-19-uitbrekings in China.

Mure van ys wat in die vorm van ʼn reuseblom gekerf is, is Dinsdag tydens die fees se opening verlig.

Die voorbereidings vir dié jaarlikse winterskouspel is egter reeds weke vantevore getref toe werkers miljoene kubieke meter ys van die oppervlak van die Songhua-rivier na die stad gebring het.

China kon grotendeels daarin slaag om sy Covid-19-infeksies onder beheer te bring wat daartoe gelei het dat vermaak- en kultuurlokale weer kon heropen. Klein uitbrekings van die koronavirus vlam wel by tye nog in Chinese stede soos Harbin op.

Besoekers aan die stad se ysfees word vanjaar versoek om ’n gesondheidskode op ’n Covid-19-nasporing-app te toon en hul temperatuur te laat neem voordat hulle die lokaal kan binnegaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.