Foto’s: Victoria-waterval sterkste in 10 jaar

Die Victoria-waterval en miswolke te sien (Foto: ANA)

Die Victoria-waterval in Zimbabwe vloei tans die sterkste wat dit in ’n dekade gedoen het. Alhoewel dié beeldskone natuurverskynsel tonge aan die praat het, is daar tans niemand om dit in persoon te aanskou nie weens Zimbabwe se landwye afsondering. Dit is om die verspreiding van die koronavirus in dié land te beperk.

Elizabeth Karonga, die openbare betrekkinge- en kommunikasiebestuurder van die Zambezi-rivierowerheid, sê data toon dat daar nou vier keer meer water oor die waterval vloei as dieselfde tyd verlede jaar.

Sowat 3 922 kubieke meter water per sekonde is Maandag aangeteken teenoor die 1 007 kubieke meter per sekonde van presies ʼn jaar gelede. Die waterstroom het sedert 2010 nog nie weer so sterk oor die waterval gevloei nie.

Volgens Karonga is dié sterk watermassa te danke aan die goeie reënval wat die afgelope reënvalseisoen in die opvangsgebied van die Zambezirivier aangeteken is.

“Die Zambezirivier beleef normaalweg twee watermassas of vloede, wat duideliker sigbaar is in die boonste opvanggebied, stroomop van die Victoria-waterval,” het Karonga gesê.

Die eerste watermassa of vloed is op 31 Maart by die Victoria-waterval aangeteken met ’n piekvloei van 4 289 kubieke meter per sekonde. Die tweede massa het die Victoria-waterval teen 14 April bereik.

Na verwagting sal die tweede vloed teen einde April sy piek bereik met meer as 4 300 kubieke meter per sekonde.

Die sterkste vloei wat in die geskiedenis aangeteken is, was in 1958 toe die piekvloei ʼn ongelooflike 9 436 kubieke meter per sekonde bereik het.

“In die komende weke sal die watervloei verder in sterkte toeneem,” sê Karonga.

Ross Kennedy, die uitvoerende hoof van die Zimbabwiese gasvryheidsgroep Africa Albida Tourism, het gesê die natuur pronk weereens met haar kragtigheid en geweldige skoonheid te midde van die wêreldwye pandemie.

Kennedy sê dit is wel teleurstellend en hartseer dat niemand nou dié natuurlike wonder van die wêreld op haar beste kan ervaar nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Burgermeester ·

Dit is ongelooflik! Ek sou dit graag in persoon wou aanskou. Ek weet dit klink snaaks, maar dit wil voorkom of die natuur lewe kry nou dat meeste mense tuisbly.

Genis ·

Ek het darem al die voorreg gehad om daar te wees… sou dit graag nou wou sien.. Ek stem, die natuur kry lewe… die mens het n groot invloed op die natuur.. kyk op na die lug en wolke, dis sommer helder…

Tino ·

MM is daar nie dalk fotos van die huidige vloei nie, ek verneem die fotos by die artikel is oud?

Megan Swart ·

Dagsê Tino
Hierdie foto’s is in April geneem en weerspieël dus die huidige vloei.
Dankie! Groetnis.
Megan
nms Maroela Media

Ronel ·

Wonderlik en nou kan niemand die natuur se skoonheid aanskou en fotos nee. Een keer in leeftyd ervaring.

TO ·

Wys jou net vandat die mnr nie meer daar is kan die Here weer werk

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.